John Steenhuisen is weer uit pas

Wie sou kon droom dat Dr Pieter Groenewald, leier van die FF-plus, ’n meer konstruktiewe benadering vir Suid-Afrika sou aanbied as die DA se leier, John Steenhuisen?

Daar is iets groots verkeerd met John Steenhuisen: hy kan nie dans nie. Wanneer hy probeer, is hy gewoonlik uit pas.

Ek het gesien hoe swart lede van die DA by die party se onlangse verkiesingskonferensie probeer het om vir John ’n paar passies en ritme te leer. Hopeloos.

John het nie die vermoë om die “vertrek te lees” nie. Hy klink altyd irriterend, neerbuigend, prekerig en amper asof hy vir jou blaf.

Dit was Woensdag weer so toe President Cyril Ramaphosa sy presidensiële begroting-stemrede gelewer het.

Die ware konteks van waar ons as land staan, is dat ons in ’n krisis verkeer wat die land R1 miljard per dag kos.

Dis nie nou die tyd om te blaf, punte te probeer wen en vinger te wys nie. Dit is tyd om werklike oplossings aan die man te bied wat probeer om hierdie ramp af te weer.

Ramaphosa se oplossing vir die probleem gaan beslis nie uit die ANC kom nie. Dit ANC het 30 jaar daaraan bestee om die land in hierdie krisis te dompel en mens kan nie op hulle reken op die pad na toekomstige welvaart aan te dui nie.

Maar John kan nie “die vertrek lees” nie. Hy het Ramaphosa bespring, soos Tony Leon in die 1990s, en hom ’n swendelaar genoem wat Suid-Afrika se burgers vir ’n spul gekke aansien.

“Ramaphosa is g’n leier nie. Hy is ’n swendelaar,” het hy aan die land gesê, en aan Ramaphosa: “Jy is ’n politieke verneuker wat jou konneksies misbruik het om ’n miljardêr te word; Suid-Afrika in die steek gelaat en laat bloei toe jy met ons klaar is.”

Hy het in hierdie bitsige toon aangegaan, geraas gemaak en op een snaar getokkel; iets wat nie paslik is vir die leier van ’n politieke party wat gesien wil word as ’n ware alternatief vir die ANC nie.

Maar hier is ’n mooi kontras.

Dr Pieter Groenewald, leier van die FF-plus en ’n man wie se vermoë om ’n “vertrek te lees” die DA stemme laat bloei het in elke onlangse tussenverkiesing, het weer eens opgestaan en die debat oor regte oplossings gelei.

Nadat hy Ramaphosa beloof het dat sy party sal help om ’n ekonomiese strategie te skep wat die probleme oplos wat ons in die gesig staar, het hy dié belofte gestand gedoen.

Hy het aan die president ’n oorwoë plan voorgelê om korrupsie te beveg, die elektrisiteitstelsel te stabiliseer, voedselsekuriteit te verseker en ons land op ’n wenpad te plaas.

Dit is wat John nie verstaan nie. 

Ná die 2024-verkiesing kan drie provinsies onder die ANC se beheer uit wees: Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng.

Die spel van die toekoms is die politiek van vaardighede, samewerking, vennootskappe en gesamentlike belange, nie slegsê en skree nie.

Lees die vertrek, John.