Tragiese ongeluk eis vyf jong slagoffers

Deur Buziwe Nocuze

‘n Bestuurder is in hegtenis geneem nadat ‘n bakkie wat leerders Dinsdagoggend skool toe vervoer het, ‘n verkeerslig getref hetf. Die kinders is van onder die kappie uitgeslinger en het onder ‘n taxi en ‘n Golden Arrow-bus beland.

Die ongeluk, op AZ Berman-rylaan in Mitchell’s Plain, het die lewens van vyf leerders geëis en nog twee beseer.

Die leerders wat gesterf het, was van Dunesie, Highlands, Wespoort, Harvester en Ridgeville Laerskole. Twee ander kinders, van Ridgeville en Lentegeur HS, is beseer en hospitaal toe geneem.

Zimkhitha Mnqanqeni, 35, van Makhaza, Khayelitsha, het ‘n sesjarige familielid, Lelam Bethiwe, in die ongeluk verloor.

“Ons was by die werk toe ons die foto’s op sosiale media sien. Dis toe dat ons die vervoereienaar gekontak het om te vra of dit ons kinders se bakkie is wat in ‘n ongeluk betrokke was. Ons het na die toneel gehaas in die hoop dat ons haar sou vind, maar ongelukkig was sy een van die slagoffers wat op die toneel dood is. Sy is nie eens na die hospitaal gevat nie,” het Mnqanqeni gesê.

Nog ‘n familielid wat ’n kind verloor het, het vir privaatheid gevra om die nuus te verwerk.

“Ek is woedend vir mense wat die video’s geneem het terwyl ons kinders met soveel bloed op die grond gelê het. Het hulle nie aan gesinne gedink wat die foto’s en video’s op sosiale media sal sien nie? Hoekom die video’s in die eerste plek neem?”

Sy het mense versoek om nie sulke video’s en foto’s op sosiale media te plaas nie.

Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, David Maynier, het die dag as die hartseerste in die provinsie beskryf.

“‘n Tragiese ongeluk het die lewens van vyf jong leerders geneem. Twee leerders ontvang mediese behandeling, en die beradingspanne ondersteun die betrokke skole,” het Maynier gesê.

Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder, Sersart Wesley Twigg, het bevestig dat die 55-jarige bakkiebestuurder in hegtenis geneem is op ‘n aanklag van strafbare manslag. Hy sal in die Mitchell’s Plain-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is.

Die families van die slagoffers is verpletter deur hul verlies, en die voorval het die gemeenskap in skok gelaat.

Op die foto hierbo: Vyf kinders op pad skool toe is dood in ‘n noodlottige ongeluk wat Dinsdagoggend in Mitchell’s Plain, Kaapstad plaasgevind het

Fotobron: Verskaf