Suster Wilhelmina Lancaster se liggaam toon geen teken van verval sedert haar dood drie jaar gelede nie.
Haar liggaam, wat in 2019 begrawe is sonder preservering, is ongeskonde ontdek nadat dit verlede maand opgegrawe is deur die Benedictines of Mary-klooster in Missouri, VSA.
Hierdie verstommende gebeurtenis is deur sommiges as ’n heilige teken beskryf, terwyl ander gesê het dit is nie so uitsonderlik as wat ’n mens sou dink nie.
Mense het van heinde en ver gereis om Suster Wilhelmina se liggaam in ’n eenvoudige houtkis te besigtig.
Besoekers is toegelaat om haar aan te raak en ’n teelepel grond uit haar graf te vat.
Die non, een van die stigterslede van die orde van die Koningin van Apostels, is deur die klooster opgegrawe as deel van voorbereidings vir ’n nuwe altaar.
Tot hulle verstomming het hulle ’n “volmaak-behoude godsdienstige oorblyfsel”, soos deur die klooster beskryf, gevind.
Die nuus hiervan het vinnig versprei nadat ’n private e-pos per ongeluk openbaar gemaak is. Dit het 1 800 mense na haar rusplek gelok.
Samuel Dawson, ’n besoeker van Kansas, Missouri, het die atmosfeer as “baie vreedsaam” en “baie eerbiedig” beskryf.
Almal was nie ewe beïndruk deur die ontdekking nie.
Rebecca George, ’n dosent in antropologie, het gesê kiste en klere kan bydra tot preservering van liggame, en dat ’n gebrek aan verval nie geheel en al onverwags is nie.
Die klooster beplan om haar ongeskonde liggaam in ’n glas-altaar in die kerk te hou, wat besoekers in staat sal stel om dit te besigtig en sand te skep sonder om aan die liggaam te raak.
Saamgestel deur eie beriggewer
In die foto hierbo: Mense het tougestaan om Suster Wilhelmina se lyk te aanskou
Fotobron: Twitter