Deur Everson Luhanga
Frustrasie oor beurtkrag dryf mense tot uiterstes.
Dit was Woensdagoggend yskoud en reënerig.
Maar dit het ‘n man nie daarvan weerhou om sy klere uit te trek, sy panga op te tel en daarmee weg te bytel aan Nelson Mandela se standbeeld buite die Uniegebou in die Stad Tshwane nie.
Die man het bewys hy is geen verkluimde viooltjie nie. Hy het onverstoord rondom die standbeeld geloop en geëis dat president Cyril Ramaphosa persoonlik na sy griewe kom luister.
Sello waga Machate, wat op die toneel was, het aan Scrolla.Africa vertel die man het gesê hy betoog teen beurtkrag en swak dienslewering.
Die man se optrede by die nasionale sleutelpunt laat vrae ontstaan oor hoekom die polisie soveel tyd geneem het om hom in hegtenis te neem.
Na ‘n lang vertraging het die polisie opgedaag, die man aangetrek en hom in hegtenis geneem.
Luitenant-kolonel Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die man deur polisiebeamptes weggeneem is.
“Die persoon is na die mediese sorgsentrum geneem sodat hy ondersoek kon word. ‘n Saak sal by die naaste polisiestasie geopen word vir verdere ondersoek,” het Masondo gesê.
Terwyl daar vir sy mediese evaluasie gewag word, sal die man na verwagting deur die polisie aangekla word indien hulle vind dat hy enige wet oortree het.
Die video van die voorval is wyd op Twitter versprei met baie mense wat kommentaar gelewer het.
Een, Lisa Steyn, het geskryf: “Wel, die ‘naakte waarheid’ is ons is almal keelvol daarvoor.”
Hierbo: ‘n Man het ontklee en aan Madiba se beeld gekap om te beurtkrag te protesteer