François Ferreira is gister vroegmiddag oorlede in sy huis in die Suid-Kaap, omring deur ‘n handjievol geliefdes. Sy lang stryd teen kanker was nie ‘n staatsgeheim nie.
Hy was ‘n bekroonde kosskrywer, televisie- en radiopersoonlikheid, en jarelange hoof van die Suid-Afrikaanse Chaîne des Rôtisseurs-rak. Maar by uitstek was Francois ‘n opleier van sjefs sonder weerga.
Kort nadat nuus van sy heengaan op sosiale media gedeel is het die boodskappe van heinde en verre begin instroom, van vriende en oudstudente in SA en wêreldwyd, in ‘n mengsel van amptelike tale.
Ferreira het reeds in 2004 besluit om sy kennis te deel deur ‘n skool vir die kulinêre kunste in die hartjie van George te vestig. Hy het daarvoor geleef om die vlak van opleiding vir jong sjefs te verhoog en te verfyn.
Hy was bekend as ‘kos-evangelis’ in die Suid-Afrikaanse voedselbedryf en volgens Catherine Eybers, kampusbestuurder by die François Ferreira Akademie, is sy werk verewig in die span gekwalifiseerde sjefs en fasiliteerders wat na sy hand opgelei is.
“François het oor die afgelope 44 jaar ‘n bedryfslegende geword, en gevolglik sal sy opleidingsgrondslag voortgaan, met talle huidige sjef- en gasvryheidsleerders by die akademie wat voortbou op sy kosbare nalatenskap,” het Eybers gesê.
Elsie Harmse van UXi Artisan Development, met wie die FFA geaffilieer is, het Ferreira se lewe en bydrae so vereer: “Soos François kos mooigemaak het, so het hy ook die lewe verfraai.
“Hy het nie net sy kostalent gedeel nie, maar het aan sy jong studente die aard van menswees deur kos uitgewys. Hy het hulle geleer om die lewe elke dag lief te hê, vir die mense en vir die kos.”
Boodskappe van skok en medelye het sedert die aankondiging van Ferreira se dood aanhou instroom. Een Facebook-gebruiker, Sylvia Luyinene Dudu Tyaze, het haar hartseer so verwoord: “My beste Chef is no more, died at 1pm today here in George. I’m so broken, jooh!”
Daar is versoek dat, liefs as blomme, enige finansiële bydraes aan die François Ferreira Ondersteuningsfonds Trust geskenk word. Die fonds is gestig om die opleiding van toekomstige sjefs wat ondersteuning benodig, te bevoordeel.
Op die foto’s hierbo: François Ferreira in sy volle, gawe, glorie – en met oudstudent Sylvia Tyaze, wat die foto op Facebook gedeel het
Fotobron: Facebook