Deur Razeen Gutta
Novak Djokovic se politieke boodskap by die Franse Ope is deur dié land se minister van sport as “onvanpas” beskryf.
Ná sy sege in skoon stelle teen Aleksandar Kovacevic het die 36-jarige Serwiër die volgenge op die kameralens geskryf: “Kosovo is die hart van Serwië. Staak geweld.”
Djokovic het daarna ’n foto met dieselfde boodskap op sosiale media geplaas.
Kosovo het 15 jaar gelede onafhanklikheid verklaar, maar Serwië weier om dit te erken.
Die boodskap het gevolg op ’n gesprek oor die saak by ’n perskonferensie, waartydens hy erken het dit is ’n netelige onderwerp.
“Dis die minste wat ek kon doen. Ek voel verantwoordelik as openbare figuur om my steun te gee. Wat in Kosovo gebeur, is pynlik vir my.”
Amelie Oudea-Castera, Frankryk se minister van sport, het aan France 2 gesê: “Indien jy menseregte verdedig met boodskappe wat mense nader aan mekaar bring om universele vraagstukke, staan dit sportlui vry om hulle mening uit te spreek.
“Maar in dié geval is die boodskap uiters polities. Jy moenie betrokke raak nie, veral onder die huidige omstandighede, en dit moenie weer gebeur nie.”
Kosovo se tennisbeheerliggaam het ook in ’n verklaring gesê die uitlating verhoog die spanning tussen die twee lande.
Djokovic pak die Hongaar Márton Fucsovics in die tweede ronde van die toernooi.
In die foto hierbo: Novak Djokovic
Fotobron: @samstreetwrites