Deur Lucky Maree
Ricky se goue droom bly op koers
Hoe is dit moontlik dat Suid-Afrikaanse rugby en die Suid-Afrikaanse Olimpiese Komitee nie die geleentheid sien om volgende jaar in Parys goud vir die land te wen nie?
Hulle moet al hulle hulpbronne benut om die Blitsbokke te help wen – en dit sluit spelers en afrigters van die 15-man spel in.
Dit sou ’n groot jammerte wees om Ricky Duarttee, die sewes- “Nuweling van die Jaar” – sy gloriekans te ontneem. Australië het ’n kangaroo as gelukbringer. Ons het Ricky Duarttee.
Ricky se ma Juanita erken haar seun was nie die maklikste nie – en dit is sagkens gestel, soos ma’s mos maak.
Hy was eintlik ’n stoute klein derduiwel, maar hy was altyd gek na rugby.
“Hy was ses toe hy sy eerste wedstryd gespeel het,” het Juanita gesê. “Hy het sy skrumpet verkeerdom opgesit, maar hy wou dit dae lank nie afhaal nie.
Maar toe Ricky op Hoërskool was, het hy uitgehaak, en dit het net al hoe erger geword. Baklei, weggebly en geskors.
“Dit was net partytjie, partytjie, partytjie, sê Angelo Davids, een van die Westelike Provinsie se sterrre, wat saam met hom op skool was, van Ricky se destydse leefstyl.
Maar rugby het later al hoe belangriker vir hom geword. Toe tref die noodlot hom. ’n Enkelbesering het hom van ’n kontrak om semi-professioneel te speel beroof.
Hy het teruggeveg. Hy het Onder-19 rugby by UJ gespeel, maar van studies was daar min sprake. Hy het huis toe gekom sonder ’n graad en het by sy ouers se vis-verwerkingsbesigheid as ’n uur-loner gaan werk.
Hy is later is uitgenooi na ’n oefenprogram by die Universiteit van Stellenbosch, wat hom ’n kans gebied het om deeglik voor te berei en sy vaardighede te slyp. Hy moes sy kar verkoop om die koste – R125 000 – te help dek.
So het hy sy pad tot in die Blitsbokke opgespeel. En in ’n teleurstellende seisoen het hy uitgestaan, en is as “Nuweling van die Jaar” aangwys.
Wanneer die Olimpiese Spele oor 425 dae begin, gaan Suid-Afrika enkele geleenthede hê om goud te wen. En een van hulle is sewesrugby.
Na ’n reeks swak vertonings moet hulle nou veg om te kwalifiseer.
Dis tyd dat die rugbybase wakker skrik.
In die foto hierbo: Ricky Duarttee
Fotobron: Twitter