Verstappen wen lag-lag in die reën

Mens sou maklik kon glo Max Verstappen het Sondag ‘n reëndans uitgevoer voor die Monaco F1 Grand Prix.

Die Red Bull-jaer het uit die eerste plek op die wegspringrooster heelpad voorgejaag, maar eers na die 52ste ronde, toe die reën met mening  begin uitsak, bewys sy heerskappy is onbetwisbaar.

Hy het sy voorsprong in die bestuurderskamioenskap tot 39 punte gerek.

Sy teenstanders het òf duur oordeelsfoute begaan en chaos gesaai, òf hulle berus by die feit dat hulle hom in elk geval nie gaan inhaal nie.

Fernando Alonso, die enigste jaer wat voor die reën gelyk het of hy Verstappen se posisie kan bedreig, val in laasgenoemde groep.

Hy het tweede geëindig, en Verstappen se vertoning na die tyd as “meesterlik” beskryf.

Alonso se span, Aston Martin, het hom geen guns bewys toe hulle in die 51ste ronde versuim het om reënbande op te sit nadat hulle hom kuipe toe ingeroep het nie.

Estaban Ocon was derde in ‘n Alpine, gevolg deur Lewis Hamilton en George Russell van Mercedes.

Dit was Verstappen se vierde sege in die kampioenskap. Sy spanmaat, Sergio Perez, wat vanjaar twee wedrenne gewen het, was in die oefenrondes in ‘n ongeluk en moes agter wegspring. Hy het 16de geëindig.

Saamgestel deur eie beriggewer

In die foto hierbo: Max Verstappen sit voet in die hoek

Fotobron: Twitter