Indiese amptenaar dreineer dam ná selfie-glips

’n Indiese regeringsamptenaar is geskors nadat hy ’n hele dam laat dreineer het in ’n poging om sy selfoon terug te kry. Hy het dié per ongeluk in die dam laat val toe hy ’n selfie wou neem.

Rajesh Vishwas, ’n voedselinspekteur, het ’n groot bohaai ontketen toe hy miljoene liter water uit die Kherkatta Dam in Chhattisgarh laat pomp het.

Plaaslike duikers het vroeër tevergeefs probeer om die foon te red. Vishwas het toe  ’n dieselpomp laat huur om van die water in ’n nabygeleë kanaal te pomp.

Volgens hom was dit belangrik, aangesien daar senisitiewe regeringsdata op die foon was. 

Oor die volgende drie dae het die pomp ’n verstommende twee miljoen liter water uit die dam gepomp – genoeg om ses vierkante meter se plaasgrond te besproei.

Vishwas se vermetele sending is stopgesit toe ’n amptenaar van die departement van water-hulpbronne ingegryp het nadat hy ’n klagte ontvang het.

Hy is geskors terwyl die saak ondersoek word. Vishwas het sy optrede verdedig, en gesê die water was in die dam se oorvloei-gebied en kon nie prakties aangewend word nie.

Die gebied het ’n erge watertekort. Inwoners moet van water-tenkwaens gebruik maak om aan hulle basiese behoeftes te voldoen.

Saamgestel deur eie beriggewer

In die foto hierbo: Die dam word hervul