Gesoek: Boewe wat lewensreddingsboot moedswillig verwoes het

Sondagoggend is berig dat daar by die Nasionale Seereddingsinstituut se Stasie 16 in Strandfontein ingebreek is. Teen gistermiddag is smeulende oorblyfsels van die gesteelde reddingstuig gevind.

Polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, Luitenant-kolonel Malcolm Pojie, sê die slot van die boothuis by Stasie 16 is oopgebreek; die diewe het daarna weggejaag met ‘n reddingstuig wat in noodgevalle op see deur Strandfontein se bemanning gebruik is.

‘n Versoek is onmiddellik deur die NSRI-hoofkwartier in Kaapstad versprei, vir die publiek om uit te kyk vir ‘n rooi JetRIB (rigiede opblaasboot), duidelik gemerk met “NSRI Rescue 16A”.

Volgens die NSRI is die voorval enig in sy soort: terwyl draagbare items soos die Pienk Reddingsboeie op strande langs die Suid-Afrikaanse kuslyn al vantevore verdwyn het, is ‘n reddingstuig nog nooit voorheen gesteel nie.

Enigiemand met inligting oor die inbraak of diegene verantwoordelik vir die reddingstuig se vernietiging word versoek om die Strandfontein-polisie by 021 370 1540 of Crime Stop by 08600 10111 te skakel.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto’s bo: Die gesteelde NSRI-vaartuig, wat in ‘n sinnelose daad to as verbrand is

Fotokrediet: NSRI/@martinslabber