Oeps! Minister sit sy adjunk “per ongeluk” op die paal

Deur Everson Luhanga

Tony Mwaba Kazadi, die Minister van Onderwys vir die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), het ‘n broodjie in die oondjie gelos van sy adjunkminister, Aminata Namasia.

Maar die minister het homself verdedig deur te sê hy het sy adjunk per ongeluk bevrug.

Plaaslike media in die DRK het berig dat die twee ministers albei getroud is en na bewering in ‘n buite-egtelike verhouding betrokke was.

Die saak is op die lappe gebring deur ‘n DRK-joernalis genaamd Lungila John, wat die besonderhede op Twitter gedeel het. Die onthulling van die affair en swangerskap het ‘n skandaal in die DRK ontketen en soos ‘n weghardloopveldbrand oor sosiale media gewoed.

Maar Namasia het die bewerings in ‘n politieke bekgeveg laat ontaard.

“Behalwe my amptelike en openbare pligte het ek ‘n persoonlike lewe wat almal se respek verdien. Dit is ‘n reg wat deur ons Grondwet aan alle Kongolese burgers gewaarborg word. Die skending van my reputasie mag nie geduld word nie.

“Om die waarheid te sê, dit benadeel nie net my eie verpligtinge nie, maar ook die reputasie van my getroude manlike kollegas en hul gesinne,” het Namasia gesê.

“In die aanloop tot die komende verkiesing wat in Desember vanjaar plaasvind, is politieke kritici welkom om my politieke opinies en optrede uit te daag in plaas daarvan om strategieë te gebruik wat daarop gemik is om my te belaster.”

Dit is onduidelik wat die toekoms inhou vir die sakeman en politikus Kazadi en sy adjunk-minnares, Namasia.

Namasia is opgelei as prokureur en werk al vir baie jare in die onderwyssektor. Beide Kazadi en Namasia is lede van die DRK se regerende party, die People’s Party for Reconstruction and Democracy.

Die DRK-regering het nog nie kommentaar gelewer oor die storie nie, en dit is moontlik dat albei ministers afgedank kan word.

Op die foto hierbo: Tony Mwaba Kazadi