Meesterlike Madhwal stuur Lucknow huis toe

Deur Razeen Gutta

Akash Madwhal het Mumbai Indians amper eiehandig tot in die eindstryd van die Indiese Premierliga gebou. Mumbai het 182/8 in hulle 20 boulbeurte aangeteken, en ’n treurige Lucknow Super Giants is almal uit vir 101.

Die 29-jarige mediumsnelbouler is die eerste speler wat vyf paaltjies in die uitspeelrondes van die IPL kon laat kantel – en dit vir net vyf lopies. Hy sou dalk nog meer paaltjies kon geneem het, maar Lucknow het komiese maniere gevind om drie van hulle eie kolwers uit te hardloop.

Dit is min of meer die enigste vermaak wat hulle die toeskouer gebied het.

Rohit Sharma het vroeër MS Dhoni se voorbeeld gevolg en besluit om eerste te kolf nadat hy die loot gewen het, en Cameron Green se blitsige 41 van 23 balle en Suryakumar Yadav (33) het Mumbai stewig laat staan teen die halfpadmerk.

Madwhal het na die wedstryd gesê hy wag al van 2018 af vir daardie tipe vertoning. Natuurlik was hy die speler van die wedstryd. Die paaltjie van die Giants se gevaarman, Nicholas Pooran, is die een wat aam hom die grootse plesier verskaf het.

Madhwal en Mumbai pak Vrydag die verdedigende kampioene, die Gujarat Titans Die wenner speel Sondag teen die Chennai Super Kings in die eindstryd.

In die foto hierbo: Akash Madhwal 

Fotobron: @VirenderSehwag