Ethiopiese superster neem deel in Durban

Deur Thathe Msimango

Wêreldrekordhouer Yalemzerf Yehualaw maak gereed om Suid-Afrikaaanse aanhangers na hul asem te laat snak wanneer sy vir die Durbanse 10 km-padwedloop aantree.

Die byeenkoms, wat deel is van die bekende Run Your City-reeks, beloof om stywe mededinging op te lewer want Yehualaw sluit haar aan by ‘n klomp elite-atlete wat die uitdagende baan op 9 Julie gaan aandurf.

Bekend vir blitsvinnige tye, het die Durban 10km al van die land se indrukwekkendste vertonings beleef, byvoorbeeld Joshua Cheptegei wat rekords in 2018 laat spat het met ‘n merkwaardige tyd van 27:16.

Vorige wedrenne het ook internasionale top-hardlopers soos Cheptegei en die Europese 10km-rekordhouer Julian Wanders gelok.

Yehualaw, wat opslae gemaak het deur ‘n wêreldrekord van 29:14 in Spanje op 27 Februarie 2022 op te stel, het pynlik naby daaraan gekom om haar eie rekord vanjaar in Valencia te breek, met ‘n indrukwekkende tyd van 29:19.

Haar teenwoordigheid by die Durban-wedloop het die kompetisie tot ongekende hoogtes verhef.

Run Your City-stigter Michael Meyer was opgewonde oor Yehualaw se deelname en het gesê die wedloop sal ‘n groot impak op die byeenkoms en op Suid-Afrikaanse sport hê.

“Dit is wonderlike nuus vir die reeks en vir SA padwedlope,” het Meyer gesê.

“Liefhebbers van die sport sal die wêreld se beste vroulike hardloper in Durban sien meeding. Ons kan nie wag om Yalemzerf by die wegspringlyn te verwelkom nie. Sy’s gereed om geskiedenis te maak.”

Yehualaw se loopbaan spog met ‘n indrukwekkende lys prestasies, insluitend ‘n oorwinning in die 2022 Londen-marathon en derde plek in die 2020 Wêreld-halfmarathonkampioenskappe.

Sy spog ook met die tweede vinnigste tyd wat nog ooit aangeteken is in die 21km-afstand, teen ‘n indrukwekkende 63:51.

Op die foto hierbo: Yalemzerf Yehualaw

Fotobron: Twitter