Wetenskaplikes het ontdek dat mense mekaar 4,500 jaar gelede gesoen het – veel vroeër as wat voorheen geglo is.
Navorsers van die Universiteit van Kopenhagen in Denemarke het antieke kleitablette ontleed en bewyse ontdek dat daar wild en wakker gesoen is in vroeë samelewings.
Hierdie bevindings bevraagteken die idee dat soen afkomstig is uit ‘n spesifieke streek, en dui eerder daarop dat dit ‘n wydverspreide aktiwiteit oor verskeie kulture was.
Die bewyse is verhaal uit geskrifte wat gevind is op kleitablette afkomstig uit antieke Mesopotamië, hedendaagse Irak en Sirië.
Onder die prikkelende tablette is ‘n Babiloniese kleimodel wat dateer uit 1,800VC. Dit beeld ‘n erotiese toneel uit wat blykbaar ‘n lip-lek-lekker episode insluit.
Dr Troels Pank Arboll, ‘n Mesopotamiese mediese geskiedenisdeskundige aan die Universiteit van Kopenhagen, het gesê dat duisende van hierdie kleitablette oorleef het.
“Hulle bevat duidelike voorbeelde dat ‘n kus in antieke tye as deel van romantiese intimiteit beskou is. Net soos soen deel kan uitmaak van vriendskappe en familielede se verhoudings.”
Dit blyk dat ons naaste lewende familie, bonobo’s en sjimpansees, ook aandadig is in ‘n gesoenery.
En nou vir die onprettige deel van hierdie koorswarm verhaal: wetenskaplikes glo dat die onskuldige daad van gesigsuig per ongeluk ‘n rol gespeel het in die verspreiding van die herpes simplex-virus 1 (HSV-1), wat daai aaklige koorsblare veroorsaak.
Deur ‘n deeglike ondersoek van Mesopotamiese mediese tekste het die navorsers afgekom op meldings van ‘n siekte wat lyk soos simptome wat met HSV-1 verbind word.
Aldus Arboll: “Die bu’shanu-siekte was hoofsaaklik in of om die mond en keel geleë, en simptome het blasies in of om die mond ingesluit – een van die sekerste tekens van herpes.”
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: ‘n Kus uit toeka se tyd
Fotobron: Twitter