Deur Karabo Rammutla
Gatvol inwoners van Hammanskraal het Maandag ’n selfgemaakte lintsny-seremonie gehou om ’n kliniek wat al ses jaar lank leeg staan oop te verklaar.
Daarna het hulle die bestaande Mandisa Shiceka kliniek, wat uit ’n beskadigde tent bedryf is, toegemaak.
Sekuriteitswagte het in die verlede gekeer dat hulle die nuwe kliniek oopstel.
Die verpleegsters by die tentkliniek was bang en verward. Inwoners het hulle gewaarsku om dit nie naby die ou kliniek te waag nie. Maar hulle het geweet hulle kan nie sonder die nodige magtiging by die nuwe kliniek intrek nie.
’n Senior verlpleegster wat naamloos wil bly het haar kommer uitgespreek oor personeel en pasiënte se veiligheid.
“Jy kan nie net wakker word en by ’n nuwe gesondheidsentrum intrek nie. Jy moet die bestaande prosedures volg. Inwoners dreig ons. Verpleegsters is bang.”
Sy het erken dat die tentkliniek onvoldoende is.
“Dis ’n ou tent wat nie weerbestand is nie. Dis moeilik om na pasiënte se behoeftes om te sien,” het sy gesê, en bygevoeg dat die verpleegsters graag na die nuwe kliniek toe wil trek.
Maar sy voel die inwoners se optrede is verkeerd.
Een van die inwoners, Lerato Molapo, het gesê die verpleegster se standpunt frustreer haar.
“Wat is so moeilik daaraan om beddens, medisyne en leêrs na ’n veilige moderne gebou te verskuif?” Sy wou weet hoekom dit belangrik is dat politici eerder as die mense wat die dienste gebruik die besluit neem.
Molapo meen die verpleegsters wil hoofsaaklik op foto’s saam met politici verskyn.
“Hulle is ontevrede omdat ons, die inwoners, die lint gesny en die kliniek oop verklaar het. Ons het hulle las verlig, en hulle behoort dit te waardeer en te vier.”
Motalatale Modiba van die Gautengse Departement van Gesondheid het gesê die riglyne van die Stad Tshwane moet gevolg word.
Daar moet onder meer verkeersligte opgerig word in Hammansstraat, waar die kliniek is.
“Ons wag vir die finale goedkeuring van verskeie departemente. Daarna sal ons ’n sertifikaat uitreik om te verseker die kliniek word ten volle benut,” het sy gesê.
In die foto hierbo: Hammanskraal se mense sny ’n lint om ’n kliniek wat ses jaar lank leeg staan oop te verklaar
Fotobron: Karabo Rammutla