Deur Dezzi Lennox
MS Dhoni het Dinsdag net een lopie aangeteken in die eerste uitspeelwedstryd in vanjaar se Indiese Premierlig in Chepauk, maar sy briljante kapteinskap het verseker dat die Chennai Super Kings die Gujarat Titans met 15 lopies klop.
Gujarat kon net 157 in antwoord op CSK se 172/7 aanteken. Hulle is vir die eerste keer vanjaar uitgeboul.
Dit was asof Dhoni heldersiende was. Elke keer as hy ’n veldwerker geskuif het, het die kolwer die bal luglangs na daardie speler toe geslaan.
CSK dring deur na Sondag se eindstryd – hulle tiende.
Die Titans, wat bo-aan die puntelys geëindig het, kry Vrydag ’n tweede kans wanneer hulle teen die wenner van Woensdag se wedstryd tussen die Mumbai Indians en Lucknow Super Giants speel.
Hardik Pandya het die loot gewen en Chenai ingestuur. Ruturaj Gaikwad het sy vierde vyftigtal op ’n streep teen die Titans aangeteken, en ’n krapperige 40 deur Devon Conway het gehelp dat die span 172 haal – skaflik en niks meer nie.
Mohit Sharma en Mohammed Shami het elkeen twee paaltjies laat kantel.
In die jaagtog was Shubman Gill weer die Giants se top-lopiemaker, maar sy 42 van 38 balle het teen ’n slakkepas gekom. Deepak Chahar het hom uitgehaal, en later sy span se sege saam met Ravindra Jadeja beklink.
Elkeen is met twee paaltjies beloon. Jadeja het net 18 lopies in sy vier boulbeurte afgestaan.
Die verdedigende kampioenspan is met die laaste bal van hulle beurt uitgeknikker.
In die foto hierbo: MS Dhoni
Fotobron: @ChennaiSuperKings