Kan Manie die druk verwerk?

Deur Lucky Maree

LAATVAT MET LUCKY: Die man wat die Bulls in 2020 vir die Sharks verruil het, bestaan nie meer nie. Daardie speler wat ewe maklik vir jou ’n wedstryd kon wen as verloor, is weg, skryf Lucky Maree. 

By die Westelike Provinsie het Manie Libbok die houe verduur en self begin straf uitdeel. Saam met die afrigter, John Dobson, het hy al die struikelblokke oorgesteek wat die meedoënlose spel rugby in sy pad geplaas het.

Rugby is ’n spansport. Geen speler, hoe goed ook al, kan ’n wedstryd op sy eie wen nie. Maar een speler kan ’n wedstryd verloor.

Dit is die swaard wat Saterdag oor Libbok se kop gaan hang wanneer die Stormers Munster in die eindstryd van die Verenigde Rugby-Kampioenskap aandurf.

Net soos die hele Suid-Afrika weet hoe belangrik dit is vir Libbok om ’n skitterwedstryd te speel, net so weet die hele Ierland hoe belangrik dit is om hom te stuit.

Munster het sekerlik elke oomblik van sy briljante vertoning teen Connacht voorverlede Sarerdag haarfyn bestudeer en daarvolgens beplan. Libbok sal nie kan doen wat hy wil nie.

’n Groot deel van die Stormers se strategie sal wees om ruimte vir Libbok te skep, daardie ekstra treetjie wat al die verskil maak. Gelukkig vir die losskakel sal hy losvoorspelers soos 

Deon Fourie, Hacjivah Dayimani en Evan Roos hê om dit te verskaf, en ’n vaste vyf wat vir niemand in die wêreld terugstaan nie.

Tot dusver het Libbok alles gedoen wat van hom verwag is – en meer. As die Stormers Saterdag die Verenigde Rugby-Kampioenskap wil wen, sal hy dit weer moet doen.

In die foto hierbo: Manie Libbok

Fotobron: Twitter