Shubman gaps Koning Kohli se kroon

Deur Dezzi Lennox

Virat Kohli het Sondag maar die derde speler geword wat twee honderdtalle in ’n ry in die Indiese Premierliga kan aanteken, sy sewende altesaam – en tog moet hy die 12 kolwe in sy toerusting vir eers opsy sit.

Sy span, Royal Challengers Bangalore, moes die Gujarat Titans in Bengaluru klop om na die uitspeelrondes deur te dring, maar nie eers sy briljante 101* van 61 balle, nadat hulle ingestuur is om te kolf, was genoeg nie.

RCB het 197/5 aangeteken, en hulle kaptein, Faf du Plessis, wat vir ’n slag nie die 50-kerf kon oorsteek nie, het gemeen dis ’n wentelling op ’n moeilike baanblad.

Toe nie. Shubman Gill het alles gedoen wat Kohli gedoen het – maar teen ’n haastiger tempo. Sy 104* het net 52 balle gekos. Hulle het die wenstreep oorgesteek met vyf balle in die bank.

Vroeër in die dag in Wankhede het nóg ’n honderdtal, die keer van Cameron Green, die Mumbai Indians gehelp om ’n teiken van 201 teen Sunrisers Hyderabad in 18 boulbeurte kaf te draf.

Dit het hulle na die gesogte vierde plek op die puntelys laat opskuif – en danksy RCB se loesing is dit MI wat Woensdag teen Lucknow Super Giants in ’n uitklopwedstryd speel. Die verloorspan van daardie wedstryd gaan huis toe.

Die twee topspanne, die Gujarat Titans en die Chenai Super Kings, pak mekaar Dinsdag. Die wenner dring deur na Sondag se eindstryd, en die verloorders kry ’n tweede kans, teen Woensdag se wenspan.

In die foto hierbo: Shubman Gill

Fotobron: Twitter