Deur Eie Beriggewer
Dit is hoe die stad Bakhmut lyk na 292 dae van ’n Russiese militêre aanslag.
Die Wagner huursoldategroep het Saterdag hulle vlag by die laaste woonstelblok in die stad geplant.
Yevgeny Prigozhin, Wagner se leier, het met die sege gespog en gesê sy soldate, waarvan baie veroordeelde misdadigers is, sal die stad hierdie week aan Rusland oorhandig.
Rusland het volgens berigte 100 000 man verloor in ’n stad wat nou onbewoon is.
Ondanks die Wagner Groep se simboliese sege, duur daar nog hewige gevegte in die spookstad voort, volgens die Instituut vir Oorlogstudies in Londen.
Oekraïense magte veg voort in die buitewyke van die stad.
President Wolodimr Zelenski van Oekraïne het Sondag gesê: “Jy moet verstaan, daar is niks, hulle het alles verwoes, daar is nie geboue nie.
“Bakhmut bestaan net in ons harte.”
Hy was aan die woord in Hiroshima, die stad wat in 1945 aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog deur ’n Amerikaanse kernbom verwoes is, en het Bakhmut se tragedie daarmee vergelyk.