Deur Buziwe Nocuze
’n Vrou van Langa, Kaapstad, is diep gekrenk toe ’n verpleegster van Vanguard Community Day Centre haar verlede Vrydag gespot het oor haar menstruale gesondheidsprobleme.
Die insident het gelei tot eise dat die betrokke verpleegster se onprofessionele optrede aangespreek word.
Die 38-jarige pasiënt, wat naamloos wil bly, het hulp gesoek in verband met voortdurende probleme met haar menstruale siklus.
“Ek het ’n hele maand lank bloeding ervaar, en het hulp gesoek,” het sy gesê.
Pleks dat die verpleegster haar ondersteun, het sy uitgebars van die lag.
“Ek weet regtig nie wat sy so snaaks gevind het nie,” het die vrou gesê.
“Volgens haar is dit normaal. Sy het boonop gesê ek is net besorg omdat dit met my sekslewe inmeng.”
Die verpleegster het die pasiënt aangesê om huis toe te gaan en te wag dat die probleem vanself opklaar.
Natalie Watlington, hoof-kommunikasie-beampte in die Wes-Kaap se betrokke gesondheidsdepartement, het gesê die verpleegster se gedrag is geheel en al onaanvaarbaar.
Volgens Watlington het die dagsentrum die pasiënt om verskoning gevra en vir haar ’n afspraak gemaak vir ’n mediese ondersoek.
“Ons is daartoe verbind om almal met respek en waardigheid te behandel,” het Watlington gesê.
In die foto hierbo: ’n Vrou van Langa in Kaapstad is verneder deur ’n verpleegster wat oor haar menstruale ongesteldheid gelag het
Fotobron: Buziwe Nocuze