‘n Man is in hegtenis geneem omdat hy sy pa se lyk in ‘n vrieskas geberg het.
Volgens Nederlandse mediaberigte het die 82-jarige seun aan beamptes erken dat hy sy pa se liggaam in die vrieskas bewaar het omdat hy dit nie kon verdra om van hom afskeid te neem nie.
“Ek wou hom nie laat gaan nie, want ek sou na hom verlang,” het hy aan ‘n plaaslike koerant gebieg, het Sky News berig.
Die hoendervel voorval het in die dorp Landgraaf, Nederland, ontvou toe die polisie gereageer het op ‘n huisdokter se kommer oor die gesondheid van die 101-jarige pa.
Die redenasie agter die seun se optrede het meer verwarrend geword namate hy sy voorneme gedeel het om voort te gaan om met sy oorlede pa te gesels.
Die seun het beweer dat hy, deur die lyk te bewaar na sy natuurlike heengaan 18 maande gelede, steeds ‘n gesprek met sy oorlede ouer kon aanknoop.
Terwyl owerhede die saak ondersoek, oorweg hulle nou ook die moontlikheid van bedrog.
Intussen het raadsamptenare wat die man se woning besoek het die huis as ‘n “gemors” beskryf en ‘n ultimatum van een week aan hom gestel om die saak reg te stel.
Die ontdekking het die gemeenskap laat wonder oor die man se geestestoestand. Een ding is seker: koud het dit hulle nie gelaat nie.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: ‘n Vrieskas