Stoinis, Moshin sink Mumbai 

Deur Dezzi Lennox

Marcus Stoinis het een van die beste kolfbeurte in vanjaar se Indiese Premierliga gespeel, maar sy onoorwonne 89 van 47 balle was amper-amper nie genoeg om die Lucknow Super Giants oor die wenstreep teen die Mumbai Indians te help nie.

Lucknow se mediumsnel naatbouler, Moshin Khan, pas terug van ’n ernstige besering, het die sege met ’n volmaakte laaste boulbeurt beklink.

Mumbai moes 178 aanteken om te wen, en in die voorlaaste boulbeurt, nog 30 lopies agter, het Tim David verwoed ingeklim en 19 lopies van Naveen-ul-Haq se naatballe geklits.

Nie David of Cameron Green kon ’n enkele grenshou van Moshin se boulwerk melk nie. Die twee kolwers het verdwaas bly staan nadat die laaste bal geboul is. Die wedstryd was dan in die sakkie. Hoe op dees aarde het hy op die grond beland?

Die uitslag beteken die twee spanne het plekke op die puntelys omgeruil. Lucknow lê nou derde, ’n kortkop agter Chenai op netto-lopietempo, en Mumbai vierde.

Faf du Plessis se span, Royal Challengers Bangalore, is vyfde, twee punte agter Mumbai, maar hulle het een wedstryd minder as Mumbai gespeel, en het ’n beter lopietempo.

Nog drie ander spanne staan ’n kans om die uitspeelronde te haal. Nie een van hulle durf nog ’n wedstryd verloor nie.

In die foto hierbo: Moshin Khan

Fotobron: @IPL