Die stad Kyle in Texas, VSA, gaan ‘n rekord-skouspel ontketen en so die koppe laat draai.
Die stad doen ‘n beroep op mense genaamd Kyle van heinde en verre om die Guinness-wêreldrekord te verpletter vir die grootste bymekaarkoms van mense wat ‘n naam deel.
Ivans moet nou aanstap, want dis tyd dat die Kyles hul regmatige plek in die geskiedenis opeis!
Die plan, deur die stad Kyle self beraam, is om meer as 2,325 Kyles te verenig en is ‘n moedige poging om die gesogte rekord uit die greep van die Ivan-kamp te ruk.
In 2017 het ‘n byeenkoms van 2,325 Ivans in die Bosniese dorp Kupreski Kosci die kroon gevat, maar Kyle is nie tevrede met ‘n tweede plek nie.
Hierdie opwindende geleentheid, wat die “Great Gathering of Kyles” genoem word, sal later hierdie maand tydens die stad se jaarlikse Kyle Kermis plaasvind.
“Kom in, alle Kyles” het wyd en syd oor sosiale media-platforms geëggo soos die stad op hul Facebook-blad die Kyles genooi het om by die epiese kragmeting aan te sluit
“Ons het Kyles van alle vorms en groottes, ouderdomme en oorde nodig,” het ’n woordvoerder van die Kyle-extravaganza verklaar.
“Lang Kyles, kort Kyles, jong Kyles, ou Kyles. Watookal, ons wil hulle hê!”
Dit is egter nie die stad se eerste probeerslag nie. Kyle het in die verlede drie dapper pogings aangewend om die Ivans se rekord te breek Sal die vierde probeerslag ‘n wenner wees?
Volgens Sky News is die kompetisie stywer as ‘n cowboy se kalfsleerbroek.
Om vir die rekordpoging in aanmerking te kom, moet deelnemers die noemnaam Kyle hê en geen vervangings of variasies word toegelaat nie. Vergeet van Kyler, Kiel of Kylee; hulle sal dit eenvoudig nie maak nie.
Slegs bona fide, onvervalste Kyles moet aansoek doen, maar Kyles van alle generasies word uitgenooi om deel van die geskiedenis te raak.
Die Groot Vergadering van Kyles het veral ‘n lojale bondgenoot gevind in ‘n Reddit-gemeenskap van meer as 11,000 Kyles en Kyle-entoesiaste. Hierdie vurige groep was instrumenteel in die verspreiding van die nuus en het verseker dat die oproep vir Kyles wêreldwyd weerklink.
Die byeenkoms vind Sondag plaas en sal eindig in ‘n crescendo van Kyle-trots aan die einde van die Kyle Kermis. Vir drie dae sal die makietie kook met polsende musiek, opwindende ritte, en ‘n liplek-lekker ribkookkompetisie.
Maar mense, is nie al nie! Elke Kyle wat dit waag om by sy rekordbrekende geledere aan te sluit, sal ‘n komplimentêre T-hemp en ‘n sakvol briljante bederfies ontvang.
Toegang tot die Kyle Kermis en geskiedkundige bymekaarkoms is absoluut gratis, om te verseker dat geen Kyle uitgesluit word nie. Aspirant rekordbrekers moet egter voorbereid wees en geldige identifikasie, ‘n adres en kontakinligting saambring. Dit als sal bydra tot Kyle se grootse wêreldrekordpoging.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: Die stad Kyle