Deur Anita Dangazele
Dis òf kurkdroog, òf papnat – dit is die harde werklikheid wat Nelson Mandelabaai-inwoners verlede naweek moes trotseer terwyl hulle geveg het om hul besittings van vloedwater te red.
Swaar reënbuie was ‘n welkome verligting na ‘n uitgerekte droogte, maar het baie inwoners gedwing om hul huise te ontruim en in gemeenskapsale en kerke saam te drom.
Die eDongweni informele nedersetting in Kwazakhele Township was een van die gebiede wat die ergste getref is. Dit is op ‘n laagliggende oppervlak geleë, wat inwoners kwesbaar maak vir vloede.
Phunyezwa Mvunyiswa, 32, is ‘n ma van twee dogters en het gesê die meeste van hul besittings is deur vloedwater verwoes.
“Ons het gisteraand op die koue vloer in ’n gemeenskapsaal geslaap; ons meubels, elektronika, kruideniersware en belangrike dokumente was als onder water. Ons het alle moontlike hulp nodig, want ek weet nie hoe ons nou gaan voortgaan nie,” het sy gesê.
Gamelihle Maqula, raadslid van Wyk 19, het gesê die rede waarom huishoudings onder water was, was weens verstopte dreineringstelsels.
“Dit was nie ‘n vloed nie. Daar was swaar reën, maar geen vloed nie. Wat gebeur het is dat ons in een van die kanale, of dreine, waar daar skoongemaak is, uitgevind het dat mense onwettig rommel bo-op daardie drein strooi,” het Maqula gesê.
“Daar was afval en vuil dromme daar binne – allerhande goed was in daardie drein.”
Die reën het ‘n negatiewe uitwerking op sekere inwoners gehad, maar dit het ‘n wesenlike verskil gemaak in die droogtegeteisterde stad se damvlakke.
NMBM uitvoerende burgemeester Retief Odendaal het opgewonde op sy Facebook-blad die nuus gedeel van ‘n toename in die vlakke van Loeriedam – ‘n klein balansdam waardeur die water van die veel groter Kougadam na NMB gelei word.
“Verlede Maandag (die 8ste) het die damvlak op 39.9% gestaan. Vandag is dit op 94.07% en ek is vol vertroue dat dit binnekort sal begin oorloop! Ons is rasend opgewonde en dankbaar vir hierdie invloei!” hy het geskryf.
Odendaal het voortgegaan om te sê hoewel hy dankbaar was vir die reën, die droogte steeds ‘n werklikheid is.
“Die reën is nie naastenby genoeg om die droogte te breek nie, en die meerderheid van neerslae het nie binne ons opvanggebiede geval nie, maar naby die kus.
“Hierdie droogte is dus steeds ‘n werklikheid. Ek doen ‘n beroep op alle inwoners om water baie spaarsamig te gebruik.”
Op die foto hierbo: ‘n Inwoner wat deur water swoeg om besittings te probeer red
Fotobron: Verskaf