Stormers-fans rinkink tot laat in die Kaapse nag

Deur Lucky Maree

Toe Jack Crowley se skepskop tussen die pale deur seil om Munster met ‘n enkele punt oor Leinster te laat seëvier, het die partytjiegees in Kaapstad en Suid-Afrika tot by kookpunt gestyg.

Vroeër Saterdagmiddag het die Stormers hul plek in die eindstryd van die Verenigde Rugby Kampoeinskap bespreek met ‘n oortuigende 43-25 wen teen Connacht. In die hoogs onwaarskynlike geval dat Munster vir Leinster in Dublin sou klop, kon die eindstryd selfs in Kaapstad gespeel word – maar dit was darem te veel gevra, of hoe?

Stormers kaptein Steven Kitshoff het ná hul wedstryd gesê hulle sou graag wou hê die eindstryd moet in Kaapstad plaasvind.

“Of die eindstryd by Kaapstad Stadion of by Aviva is, ons sal ons beste rugby speel,” het hy gesê.

Hy het sy hand gewaai in die rigting van die derduisende ondersteuners wat nog nie gereed was om die stadion te verlaat nie.

“Maar ons sal baie bly wees as die wedstryd hier, voor al hierdie mense, gespeel kan word,” het hy bygevoeg.

Als in ag genome was Leinster afrigter Leo Cullen se besluit om sy B-span te speel omtrent die swakste skuif van die hele VGK.

Om goeie spelers soos Andrew Porter, Dan Sheehan en Caelan Doris op die kantlyn te los was erg genoeg, maar die weglating van losskakel-paar Jamison Gibson-Park en Ross Byrne was blote arrogansie.

Verlede Vrydag was die gesprek steeds dat Byrne die Leinster-aanval sou lei, aangesien hulle beide die VGK en Heineken Kampioenebeker in die volgende paar weke wou lig.

Dit was hul nie beskore nie. Soos elke skoolkind weet, kom hoogmoed tot ‘n val.

By die onderhoud ná die wedstryd het Cullen gesê die verlies teen Munster was ‘n realiteit waaroor hulle nie nou kon tob ​​nie.

“Ons is volgende naweek weer op die veld teen La Rochelle. Hulle sal desperaat wees om hul trofee te behou, so dit sal weer ‘n harde wedstryd wees waarin albei spanne alles uithaal,” het hy gesê.

Intussen het die partytjie op Suid-Afrikaanse bodem voortgekook. Die Kaapstad Stadion-skare, glad nie gereed om huiswaarts te keer nie, het na die V&A Waterfront oorbeweeg waar die partytjie tot diep in die nag aangegaan het. Miskien is dit ‘n proeflopie vir die Wêreldbeker in September, hè?

Op die foto hierbo: Die 47,000+ ondersteuners in die DHL Kaapstad Stadion was ‘n VGK rekord vir bywoning in als behalwe ‘n finaal

Fotobron: @thestormers