Deur Zukile Majova
Eskom se volgende hoof uitvoerende beampte sal aangestel word presies soos ’n ANC-burgemeester, premier of minister hul werk verkry: in die geheim.
Onderhoude vir die volgende HUB begin Vrydag en sal nie in die openbaar gehou word soos die onderhoude van regters en die hoofregter nie.
Eskom-voorsitter Mpho Makwana het dit Woensdag aan die parlement se Staande Komitee vir Openbare Rekeninge (Scopa) bevestig tydens die verhoor oor aantygings wat deur die voormalige uitvoerende hoof, André de Ruyter, gemaak is.
“Die proses verloop eintlik goed,” het Makwana begin. “Ons het ‘n aantal sterk kandidate op die kortlys, en die onderhoude sal hierdie Vrydag begin.”
DA-LP en Scopa-lid Robert Lees het gevra of die onderhoude in die openbaar gehou sal word en, indien nie, of daar iets in die memorandum is wat hulle verhinder om die onderhoude in die openbaar te voer.
“Nee, ons het nie ‘n plan om dit in die openbaar te doen nie. Niks in ons akte van inlywing laat ons toe om dit te doen nie,” het hy geantwoord.
“Op hierdie stadium is ek nie bewus van enige beste praktyk êrens in die wêreld wat ‘n belangrike proses soos hierdie in die publiek uitvoer nie.”
Lees het aangehou: “Daar is dus niks om julle te verhoed nie?”
“Ek weet nie, meneer,” was Makwana se finale antwoord.
Lees het aangevoer dat openbare vertroue in die nuwe uitvoerende hoof belangrik is in die lig van die benarde situasie by Eskom.
Die voorsiener se kragstasies het so verswak dat hulle nou gesamentlik net 53% van hul volle kapasiteit produseer.
Dis ‘n skrikwekkende werklikheid van jare se verwaarlosing, swak onderhoud, gebrek aan politieke wil, korrupsie en openlike plundering van die staatsmaatskappy deur kartelle wat na bewering verbind is met die ANC, en te werk gaan met die kabinet se volle kennis.
Terwyl die prosesse van die Eskom-direksie oor die aanstelling van die HUB geheim bly, word bespiegel dat minstens drie van die vyf name reeds die kortlys gehaal het.
Hulle sluit in die waarnemende uitvoerende hoof van Tongaat Hulett, Dan Marokane – ‘n voormalige bestuurder by Eskom met ‘n meestersgraad in petroleum-ingenieurswese en besigheidsadministrasie.
Die tweede kandidaat is glo die voormalige hoof van Joburg City Power, Vally Padayachee, wat ook in die laat 90’s en vroeë 2000’s by Eskom se kragopwekkingsvleuel gewerk het.
Reeds in die goeie boeke van die huidige direksie is Calib Cassim, waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, wat die pos beklee het ná die afdanking van De Ruyter in Maart.