Deur eie beriggewer
Donald Trump – die man wat voor sy verkiesing as president gespog het dat hy vroue onsedelik bevoel – is Dinsdag in ’n Amerikaanse hof aan seksuele aanranding skuldig bevind.
’n Jurie in New York het eenparig bevind dat hy die joernalis E Jean Carroll 27 jaar gelede in die kleedkamer van ’n klerewinkel seksueel aangerand het.
Dit is die eerste keer dat ’n Amerikaanse president as seksuele boosdoener gebrandmerk word. Bill Clinton is deur talle vroue hiervan beskuldig, maar nooit voor die hof gedaag nie.
Trump is nie van verkragting, die ander klag teen hom, skuldig bevind nie, vanweë onvoldoende getuienis teen hom.
Trump, wat hom weer verkiesbaar gestel het vir 2024, moet $5 miljoen skadevergoeding aan die klaagster betaal, maar aangesien dit ’n siviele saak was, kon hy nie tronkstraf opgelê word nie.
Trump, 76, het na die bevinding op sy eie media-wedwerf geskryf: “Ek het geen benul wie hierdie vrou is nie. Die uitslag is skandalig – ’n verlenging van die grootste heksejag van alle tye.”
In ’n vooraf-ondersoek is daar ’n foto van Carroll aan Trump gewys. Hy het gedink die foto is van sy tweede vrou, Marla Maples.
In die foto hierbo: Donald Trump
Fotobron: Twitter