Reën help Proteas tot in Wêreldbeker

Deur Dezzi Lennox

Vir ’n slag was die reën Dinsdag aan die Proteas se kant, toe ’n wedstryd tussen Ierland en Bangladesh in Chelmsford nie voltooi kon word nie. Dit het beteken dat Suid-Afrika regstreeks deurdring tot die Wêreldbeker-eindreeks in Indië later vanjaar.

Ierland sou Suid-Afrika op die wêreldranglys kon verbysteek en een van die agt spanne word wat nie aan ’n kwalifiserende uitspeeltoernooi in Zimbabwe hoef deel te neem nie, maar daarvoor sou hulle al drie wedstryde in ’n tuisreeks teen Bangladesh moes wen.

Die onbesliste uitslag het dié droom verydel.

Die Proteas se witbal-afrigter, Rob Walter, het gister aan ESPNcricinfo gesê dit sou nie ’n ramp wees as die Proteas aan die uitspeeltoernooi moes deelneem nie. Dit sou hulle ’n kans gegun het om vir die eindtoernooi te slyp. Die twee topspanne dring deur tot die eindtoernooi.

Hokaai, Rob. Twee voormalige Wêreldbeker-kampioene, Sri Lanka en die Wes-Indiese Eilande, moet nog kwalifiseer. Dis geen uitgemaakte saak dat die Proteas een van die twee spanne sou wees wat die eindtoernooi sou haal nie.

Hulle het immers net nou die dag teen Nederland in die T20-Wêreldbeker verloor, en die uitspeelrondes misgeloop.

Reën het die Proteas al drie keer in Wêreldbekerwedstryde gepootjie terwyl hulla na waarskynlike oorwinnings op pad was: in 1992 teen Engeland in Australië, in 2003 teen Sri Lanka in Suid-Afrika, en in 2015 teen Nieu-Seeland, in Nieu-Seeland. Hierdie keer het die weer mooi saamgespeel.

In die foto hierbo: Die Proteas se kaptein, Temba Bavuma

Fotobron: Twitter