KZN hervat muur-bou op Mosambiekse grens

Deur Mlungisi Gumede

In ’n poging om misdadigers wat die grens tussen Mosambiek en Manguzi oorsteek, rig die regering van KwaZulu-Natal ’n muur op wat oor 8km strek.

R271 miljoen is daarvoor begroot.

Die gebied is berug vir motorkapings, wat aangevuur word deur Mosambiekers wat motors uit Suid-Afrika oor die grens neem.

KZN se premier, Nomusa Dube-Ncube, het die Departement van Vervoer in die provinsie aangesê om te roer met die muur, en aangekondig dat daar reeds met die oprigting van die eerste 5km begin is.

Die muur, wat bekend staan as die New Jersey Versperrings, strek van die grens van die Isimangaliso Vleilande-Park tot by die westelike grens van Tembe Olifantpark.

“Ons wil die probleem van ongewenste inkomelinge eens en vir altyd stopsit,” het Dube-Ncube gesê.

Die projek verg baie handearbeid, en plaaslike mense – jeugdiges en vroue van uMhlabuyalingana – sal werkgeleenthede kry. Die aangepaste versperrings sal plaaslik in uMkhanyakude vervaardig word.

Ander maatreëls om kardiefstal te verminder, is die opgradering van Manguzi-polisiestasie; die aankoop van bykomende voertuie, en ’n mobiele polisiestasie in die Skhemelele gebied.

Daar is reeds vordering gemaak, maar die moord op plaaslike leiers en wetstoepassers is ’n bron van groot kommer vir die regering en die gemeenskap van uMkhanyakude.

Judah Mthethwa, Sandile Tembe en Prince Zakhele Tembe, vooraanstaande burgerlike leiers wat misdaad oor die grens heen beveg het, is onlangs in afsonderlike aanvalle doodgeskiet.

“Ons moet voortgaan om saam te werk om misdaad in ons gemeenskappe te bekamp. Die regering sal ingryp, en ons vra dat die mense van Umkhanyakude ons bystaan,” het Dube-Ncube gesê.

Op die foto hierbo: Konstruksie is hervat aan die 8km betonmuur op die grens tussen Mosambiek en Suid-Afrika

 Fotobron: Twitter