Vrou oorleef vyf dae in woestyn – op wyn!

’n Agt-en-veertigjarige vrou wat in Australië se wildernis verdwaal het, het vyf dae lank oorleef op ’n bottel wyn en ’n handvol suiglekkers.

Lillian Ip het voorverlede Sondag ’n tog deur die woestyn is die staat Victoria per motor onderneem. Sy het die wyn as ’n geskenk aan ’n vriend ingepak.

Maar na ’n paar uur het die pad waarop sy haar bevind het, doodgeloop. Sy het iewers verkeerd afgedraai.

En toe val haar kar in die modder vas.

Die volgende vyf dae het sy oorleef op klein slukkies wyn en proetjies aan stokkielekkers, terwyl sy dagdroom oor “water en ’n sigaret”.

Sy het alle hoop verloor dat sy gered sou word.

“Ek het gedink ek gaan dood. Vrydag het my liggaam afgesluit. Ek was gereed om op te gee.”

Sy het ’n groetbrief aan haar familie geskryf. “Indien ek nie betyds gevind word nie, het ek in die ysige koue omgekom. Ek het julle almal lief. Moenie oor my huil nie.”

Toe sy uiteindelik deur ’n soekhelikopter gevind is, was sy 55km van die naaste dorp.

“Dank God die polisievrou het ’n sigaret gehad,” het sy na die tyd gesê.

Saamgestel deur eie beriggewer

In die foto hierbo: Lillian Ip is per helikopter gered, vyf dae nadat sy in die Australiese wildernis verdwaal het

Fotobron: Twitter