Ons veg deur Fase 6 – maar dié las kon eintlik baie ligter wees

Deur Zukile Majova

Suid-Afrika is weer in duisternis gedompel. Maar hierdie week se Fase 6-beurtkrag kon vermy geword het, as dit nie vir die regering se belaglike verkrygingsbeleid was nie.

‘n Besluit om tenders te prioritiseer vir die verkryging van onderdele wat benodig word om Eskom-kragstasies in stand te hou, verseker dat die land onnodig hoë vlakke van beurtkrag ervaar.

As Eskom toegelaat was om die middelman uit te sny en hierdie onderdele direk van die oorspronklike vervaardigers te bestel, sou opwekkingseenhede betyds reggemaak kon word.

Net hierdie week het ‘n opwekkingseenheid, wat nie betyds na die netwerk teruggestuur kon word nie, ons ‘n koel 2,800MW gekos, wat omgeskakel kan word na drie fases van beurtkrag.

So, ja, jy was veronderstel om hierdie week op Fase 3 wees, nie Fase 6 die heelweek lank nie.

Eskom-kragsentrales is oud en onbetroubaar, en die verkryging van onderdele deur die tenderstelsel maak onderhoudskedules wispelturig.

Dr Kgosientsho Ramakgopa, Minister van Elektrisiteit, het erken die verkrygingsbeleid laat die nasie in die steek.

“Daar is ‘n saak wat verband hou met die spoed waarmee jy onderdele kan aanskaf, soos jy eenhede afskakel of as eenhede faal, en dit het te make met die verkrygingsbedeling,” het Dr Ramakgopa vandeesweek gesê.

“Ons het nou met twee van die belangrikste toerustingvervaardigers in die land gesels, wat byna 95% van die groot eenhede wat by 14 steenkoolkragstasies geïnstalleer is verteenwoordig, sodat ons regstreeks kan handel.

“Wat ek aan die kabinet stel, is dat die Nasionale Tesourie moet toelaat dat daar regstreekse verkryging is vanaf die oorspronklike vervaardigers, sodat ons eenhede so vinnig as moontlik kan terugbesorg.”

Hy het gesê op die oomblik moet Eskom toerusting verkry van die voorgeskrewe lys van diensverskaffers – “en ons weet almal dat wie ookal die tender losslaan, na die oorspronklike toerustingvervaardiger sal gaan om daardie onderdeel of daardie komponent wat ontbreek, aan te skaf”.

As gevolg van die tyd wat hierdie verkrygingsproses vat, neem dit langer om eenhede reg te maak en dis duurder as wat die geval sou wees as onderdele direk van die vervaardiger verkry is.

“Dit is gemiddeld ongeveer 2,800MW eenhede wat nie terugbesorg is teen die beloofde tyd nie as gevolg van daardie verkrygingsituasie,” het die minister op Morning Live gesê.

Onklaar masjienerie by Eskom-kragstasies het hierdie week ‘n nuwe rekord van 19,333MW getref, wat veroorsaak dat Fase 6-beurtkrag landwyd geld.