Net die Stormers het hulle kant gebring

Deur Lucky Maree

In verlede Saterdag se wedstryd teen die Bulls het die Stormers elke keer as hulle aan die bal vat die woord “klas” by mens laat opkom.

In die agterlyn het Damian Willemse, Angelo Davids en Dan du Plessis onder die ander uitgetroon. Teen die hoogaangeskerwe Bulls-agttal het Steven Kitshoff, Marvin Orie en Deon Fourie skitterend gespeel. Maar moet niemand weglaat nie. Dit was ’n vertoning waarmee die afrigter, John Dobson, uiters tevrede kan wees.

Maar daar is meer op die spel as die Verenigde Rugbykampioenskap. Die vier spanne in die halfeind sal almal op volle sterkte wees, maar maak dit saak dat drie van Ierland en slegs een van Suid-Afrika is?

Leinster, Ulster, Connacht en Munster is op presies die regte tyd op hulle beste.

Al vier Ierse spanne het tot onlangs toe op die kroon aanspraak gemaak. Andy Farrell het ongekende talent waaruit hy sy Wêreldbekergroep kan kies. Al die Ierse afrigters het bygedra om Ierland die beste moontlike kans te gun.

Aan die tuisfront gaan die Lions gebuk onder interne struwelinge. Die paar kere wat die Lions aanvaarbare rugby voorgesit het, was dit ondanks die bestuurspan.

As die afrigter, Cash van Rooyen, omgegee het, het hy dit nie gewys nie. Die verdedigingsafrigter, Jacque Fourie het sporadies gelyk of hy omgee. Die baas, Rudolf Straeuli, ’n reus van ’n man, lyk soos ’n olifant wat in die bos ronddrentel sonder om die blare te laat ritsel.

Jake White se Bulls was amper daar, maar het die teiken misgeskiet. Hulle vertrek uit die VRK was te wagte en lusteloos.

Hulle het op ’n manier die kwarteind gehaal, en dis nie te sleg nie. Spelers soos Kurt-Lee Arendse en Marco van Staden het darem gelyk asof hulle regtig wou speel.

Die Sharks het met loodvoete op die veld gedraf teen Leinster se naasbestes, ondanks die sewe Springbokke in hulle geledere. Die afrigter, Neil Powell, was onoortuigend as iemand wat wil hê sy span moet wen.

Baie van Suid-Afrika se bestes, soos  Handré Pollard, speel oorsee en was nie vir die VRK beskikbaar nie. Maar die wat wel hier was, met die uitsondering van die Stormers, was teleurstellend, en het Suid-Afrika g’n gunste bewys nie.

In die foto hierbo: Die Stormers 

Fotobron: @ItsBilaso