Die regering het die weermag ontplooi om Eskom se kragstasies te beskerm teen diefstal en sabotasie – een van die grootste redes vir Suid-Afrika se kragkrisis.
Die skuif loop hand aan hand met die gereeldheid van beurtkrag tans in Fase 5 en Fase 6.
Die presidensie het gesê 880 soldate sal tot 17 Oktober by Eskom-stasies gestasioneer wees. Hierdie getal is heelwat minder as die 2,700 troepe wat in Maart en April ontplooi is om kragstasies te bewaak.
Volgens maroelamedia.co.za sal die huidige ontplooiing – vanaf middel April to middel Oktober – die regering sowat R246.7 miljoen uit die sak jaag.
Intussen het die hooggeregshof in Pretoria Vrydag beslis dat noodsaaklike dienste soos staatshospitale en klinieke van kragonderbrekings ontsien moet word, en dat Pravin Gordhan, Minister van Openbare Ondernemings, binne 60 dae “redelike stappe moet neem” om dié taak gedoen te kry.
Saamgestel deur Anita Dangazele