Deur Lucky Maree
Benoude katte maak benoude spronge. En jy gaan ver soek na ’n benouder kat as Neil Powell, direkteur van Sharks Rugby.
En daar maak John Plumtree sy verskyning.
In sy speeldae was Plumtree, ’n Nieu-Seelandse boorling, ’n fees om te aanskou as ’n klipharde flank sonder fiemies aan die kant van die Sharks se skrum. Hy’t vir g’n duiwel gestuit nie.
As afrigter is hy ewe ongenaakbaar, en onder hom het die Sharks in 2008 die Curriebeker gewen. Hy is as Absa se Afrigter van die Jaar aangewys.
Maar teen 2012 het sake vir die Sharks begin skeefloop, en dit was geen verrassing toe hulle nuwe baas, John Smit, Plumtree in die pad steek nie. Daar was sprake dat spelers moeg was vir sy oordonderende aanslag.
Hy is Ierland toe as skrumafrigter, waar hy redelik suksesvol was. Daarna is hy terug na Nieu-Seeland, waar hy die All Blacks se skrumafrigter was.
Onder die hoofafrigter Ian Foster het Plum se reputasie ’n hengse knou gekry. Kenners het die agttal as “sag” beskryf – die laaste etiket wat hulle sou wou gehad het.
Foster is in die belaglike posisie geplaas waarin hy afgedank is… maar gedwing is om aan te bly tot na die Wêreldbeker. Plumtree moes dadelik skoert.
Hoekom is niemand dan verbaas dat hy by die Sharks opduik nie?
Een van die eerste dinge wat Powell gedoen het na sy aanstelling, was om die hoofafrigter, Sean Everitt, af te dank en self die rol oor te neem – met treurige gevolge.
Powell se laaste paar toernooie as afrigter van die Blitsbokke was nie te waffers nie, en as die Sharks se direkteur en breier is sy reputasie aan flarde.
Hy het duidelik besluit hy moet homself uit die spervuur haal – en tjop-tjop!
Dit was moeilik om te glo dat van Suid-Afrika bestes in die Sharks-span was wat teen Leinster se oorskiet slae gekry het. Sterre soos Aphelele Fassi, Makazole Mapimpi, Grant Williams, Thomas du Toit, Bongi Mbonambi en Ox Nche het sleepvoet gespeel, en selfs die briljante Lukhanyo Am was sy woema kwyt.
Siya Kolisi het klaar besluit hy mik volgende seisoen Frankryk toe.
En daar gee Powell ’n benoude sprong tot in Plumtree se arms. Dié vakman het helaas nie die vonk wat manne soos Rassie Erasmus, John Dobson van die Stormers of Jimmy Stonehouse van die Pumas aan spanne verleen nie.
Wat is Powell se verwagting van Plumtree? Dalk wil hy net tyd koop. Vergeet voorlopig van welslae aan die internasionale front. As hulle maar net ’n slag ’n wedstryd of twee teen plaaslik spanne kan wen!
Die Sharks se getjommel hou gevaar vir die Springbokke in. Erasmus en Jacques Nienaber se tyd om bogenoemde legendes aan te vuur, raak min.
Dit is in die Bokke se belang dat die Sharks wenrugby speel. Powell kon hulle nie daartoe lei nie. Wat Plumtree veronderstel is om te doen, weet nugter.
In die foto hierbo: John Plumtree
Fotobron: @sharksrugby