Pandemonium toe honger student piesang-kuns verorber

‘n Kunsstudent van Suid-Korea het die reg in eie hande geneem toe hy besluit het om aan ‘n ryp piesang te smul wat deel was van ‘n kunsinstallasie.

Die kunswerk, genaamd Comedian, was die skepping van Italiaanse kunstenaar Maurizio Cattelan en is by Seoul se Leeum Kunsmuseum vertoon.

Die piesang is teen ‘n muur vasgeplak vir almal om gade te slaan – blykbaar nié om aan te peusel nie.

Maar kunsstudent Noh Huyn-soo van Seoul Nasionale Universiteit kon nie die versoeking weerstaan ​​nie en het die piesang van die muur af geruk voordat hy dit voor geskokte omstanders verorber het.

Hy het toe nonchalant die skil terug teen die muur vasgeplak asof dit geen groot storie was nie. Die hele voorval is op video vasgelê en het langer as ‘n minuut geduur.

“Die student het aan ons gesê hy het dit geëet omdat hy honger was,” het ‘n museumwoordvoerder aan CNN vertel.

Huyn-soo het later verduidelik dat hy Cattelan se werk as opstand teen gesag geag het, en dat die beskadiging daarvan as net nog ‘n vorm van kuns gesien kan word.

“Is dit nie daar vasgeplak om geëet te word nie?” het hy gevra.

Dit is nie die eerste keer dat Cattelan se werk ‘n opskudding veroorsaak nie. In 2019 het ‘n uitvoerende kunstenaar ‘n piesang gepluk wat uitgestal was in die Perrotin-galery by Art Basel in Miami.

Toe Cattelan van die voorval ingelig is, was hy min gepla.

“Dis geen probleem nie,” het hy gesê.

Die piesang, wat elke twee tot drie dae vervang is, was deel van Cattelan se solo-uitstalling genaamd WE by die Seoelse museum. ‘n Ander weergawe van Comedian is vantevore vir ongeveer R2.2 miljoen verkoop.

Die uitstalling duur tot 16 Julie, so daar’s nog tyd oor vir honger studente om ‘n happie in te pas.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Die piesang wat heerlik lyk

Fotobron: Twitter