Deur Razeen Gutta
Nadat Paris Saint Germain Lionel Messi geskors het, is dit nou bekend dat die sokkerlegende die Franse klub aan die einde van die seisoen gaan verlaat.
Messi, Argentinië se kaptein, is vir twee weke geskors nadat hy Saoedi-Arabië sonder toestemming besoek het.
Die volgende dag het dit aan die lig gekom dat Messi en die klub se paaie vanjaar nog gaan skei.
Volgens CNN het die 35-jarige Messi Maandag se oefening misgeloop om promosiegeleenthede oorsee by te woon.
Die amptelike storie is dat die Wêreldbekerwenner op ’n gesinsvakansie in Saoedi-Arabië is.
Ahmed Al Khateeb, Saoedi se minister van toerisme, het op sosiale media geskryf: “Ek is verheug om Messi en sy gesin in Saoedi te verwelkom, sodat hulle die betowerende toeriste-aanloklikhede kan ervaar.”
Messi se kontrak met PSG geld tot einde Junie. Die ongeoorloofde oorsese besoek was glo ’n breekpunt.
Daar is gerugte dat die Argentyn na sy voormalige klub, Barcelona, kan terugkeer, of hom by Cristiano Ronaldo in Saoedi se professionele liga kan aansluit.
In die foto hierbo: Lionel Messi
Fotobron: @PSG_report