Twee Intercape-verdagtes vasgetrek

Deur Songeziwe Mapukata

Die polisie het uiteindelik ‘n deurbraak behaal in hul maandelange stryd teen kriminele aanvalle op Intercape-busse in die Oos-Kaap.

Twee verdagtes is gearresteer in verband met die gewelddadige voorvalle waarin passasiers regoor die provinsie gedreig, beroof en aangerand is.

Volgens Brigadier Tembinkosi Kinana van die Oos-Kaapse polisie is die verdagtes, onderskeidelik 26 en 37 jaar oud, aangekeer nadat hulle glo reisigers by ‘n vulstasie in Cofimvaba aangerand en beroof het.

‘n Tweede aanval het tussen Tsomo en Ngqamakwe plaasgevind. Die verdagtes se name is nie bekend gemaak nie en hulle verskyn later vandeesweek in die hof.

Die Intercape busmaatskappy het ‘n beroep gedoen op vervoerowerhede en die polisie vir dringende optrede om die geweld teen hul busse, personeellede en passasiers aan te spreek.

Meer as 160 sake is sedert die begin van die aanvalle deur die maatskappy by die Oos-Kaapse polisie geopen. Intercape het selfs sover gegaan as om Bheki Cele, Minister van Polisie, te dagvaar omdat hy nie ‘n veiligheidsplan verskaf het om aanvalle op hul busse te voorkom nie.

In April was daar 14 aanvalle in die Oos-Kaap, waartydens drie mense beseer en twee ander erg aangerand is.

Die polisie het gereageer deur Taktiese Reaksie-spanne en Blitspatrollie-lede op nasionale paaie te ontplooi om dag en nag die snelweg te patrolleer, aangesien sommige aanvalle voorgekom het in afgesonderde gebiede sonder enige nabygeleë huise.

Kinana het gesê dat ondersoeke aan die gang is om te bepaal of die verdagtes met ander voorvalle regoor die provinsie verbind kan word.

Intercape het gesê die arrestasies is ‘n beduidende deurbraak in die aanvalle op hul busse. Hulle hoop dit sal lei tot verdere arrestasies en ‘n vermindering in die aantal aanvalle op hul busse en passasiers.

Op die foto hierbo: ‘n Beskadigde Intercape-bus

Fotobron: Verskaf