Beroemde Spaanse sjef Dabiz Muñoz het ‘n aanlynopskudding ontketen nadat hy die lof besing het van ‘n nuwe lekkerny: geroosterde blaasoppie-semen!
“Geroosterde blaasoppie-semen. Onbeskryflik, dit het my kop oopgeskiet,” het hy op sosiale media verklaar.
Een gebruiker se kommentaar was: “Dis nou vir jou kospornografie!”
Muñoz, wat onlangs die gesogte titel van Beste Sjef ter Wêreld verower het, is aan die stuur van die beroemde DiverXO-restaurant in Madrid.
Die gereg, bekend as shirako, word in Japan as lekkerny beskou en word dikwels in luukse restaurante bedien.
Die semen van kabeljou, monnikvis, seekat, salm en inkvis word ook gebruik, en word onttrek van die spermsakke in manlike visse.
Die semen kan in kleur wissel van wit tot skakerings van pienk.
Muñoz oorweeg dit nou om die gereg in te sluit op die eksklusiewe spyskaart van sy restaurant, wat reeds met drie Michelin-sterre spog.
Bekend vir sy ongebreidelde kreatiwiteit, bied Muñoz “nuwe, onontginde maniere om sin te maak van die gastronomiese ervaring,” volgens die restaurant se webwerf.
Maar diegene wat gretig is om die blaasoppie-semen te probeer, gaan ‘n stywe prys betaal. Gaste moet ‘n kaartjie koop van meer as $400 (R7,300) om die 12-gang-proe-spyskaart te geniet.
Muñoz is vir die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as wêreld Nommer Een by die Beste Sjef-toekennings 2022 in Madrid.
Dit is duidelik dat Muñoz altyd op soek is na vars kulinêre avonture – en sy fynproewerskliënte staan tou om dit te ervaar.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: Blaasoppie