Deur Anita Dangazele
Die Hof vir Landeise het Prudhoe, net buite Port Alfred, aan die regmatige geskiedkundige eienaars terugbesorg. Maar diegene wat daarby moes baat, het verlede naweek ’n spogoord ter waarde van miljoene der miljoene rand, wat hulle saam met gebied verkry het, geplunder.
Die Visrivieroord was veronderstel was om die ekonomie van die kusstreek Prudhoe, net ’n paar kilometer van Port Alfred, ’n toeriste-aantreklikheid, ’n hupstoot te gee, maar die begunstigdes het hulle erfdeel onmeetbare skade aangedoen.
Lede van Prudhoe se gemeenskap het met voertuie met sleepwaens by die oord ingery en is later met stowe, yskaste, TV-stelle en rekenaartoerusting daar weg – toebehore wat miljoene rande gaan kos om te vervang.
Dit het die Prudhoe-gemeenskap 23 jaar gekos om hulle erfgrond met ’n beslissing van die Hof vir Landeise terug te kry, ná ’n stryd met die mededingende Mazizi-gemeenskap.
’n Faksie in die Prudhoe Gemeenskaptrust het dit binne twee maande verwoes.
Die grond het feitlik onuitputlike moontlikhede vir die gemeenskap ingehou, met Port Alfred om die draai en die Visrivieroord tot hulle beskikking. Skeppers van die Survivor SA TV-reeks het die gebied vir die verfilming van die negende seisoen uitgekies.
Inkomste uit die oord sou die Prudhoe-gemeenskap uit die kloue van armoede kon ophef.
Wat kon moontlik verkeerd gaan? Alles.
Die akte is op 21 Maart 2021 aan die Prudhoe Gemeenskapstrust oorhandig.
’n Huurkontrak is met ’n maatskappy met die naam MahalaX oorhandig om die oord te bedryf.
Brigadier Thembinkosi Kinana, die polisiesegspersoon vir die gebied, het gesê die oord is helder oordag geplunder. Nie ’n enkele kamer het die verwoesting vrygespring nie.
’n Minibus op die perseel is ook geheel en al gestroop. Die algehele skade beloop etlike miljoene rand.
Van die gesteelde goedere is in die omgewing gevind waar dit agter bosse weggesteek is. Een van die vermeende plunderaars, Funeka Xawuka, 29, is in hegtenis geneem nadat die polisie ’n wenk ontvang het. Sy het Dinsdag in Peddie se landdroshof verskyn. Sy sal vandag (Woensdag) ’n borgtogaansoek doen.
In die foto hierbo: Die geplunderde Visrivieroord
Fotobron: Verskaf