Boykie van Potch bemeester Spaanse baan

Deur Lucky Maree

Brad Binder sal waarskynlik nie Suid-Afrika se volgende motorfietsrenwêreldkampioen wees nie, maar hy is beslis deel van die resies.

Sy tweede plek Sondag in die Gran Premio de España by die Circuito de Jerez mag heel moontlik sy beste rit tot nog toe wees.

Van die beginlyn af het Binder en sy Australiese spanmaat Jack Miller die voortou geneem. Met die manier waarop hulle teen mekaar gejaag het, kan mens vergewe word as jy vergeet het dat hulle deel is van dieselfde KTM MotoGP-span.

Binder het uiteindelik ‘n klein voorsprong oor Miller vermag en dit het gelyk asof hy die wenner gaan wees maar die Ducati-ryer, Italianer Pecco Bagnaia, het eers vir Miller verbygesteek en toe die voortou van Binder geroof met net drie rondtes oor.

Dit het geblyk dat Binder sy bande ooreis het. Bagnaia het gemaklik ‘n voorsprong van so tien meter behaal, maar toe kom Binder terug met mening. (Binder, wat ‘n skouspelagtige sywaartse styl het, het ‘n harde saamgestelde band aan die voorkant gebruik terwyl al die ander jaers die sagter bande gekies het.)

Binder het ná die wedren gesê: “Met die laaste rondte het ek gedink ek het dalk ‘n kans en het my vinnigste rondte van die wedren afgelê. Maar Pecco was te vinnig.”

Binder kom uit ‘n hegte motorsportfamilie van Potchefstroom. Die 27-jarige het op motorfietse begin jaag as 10-jarige, en was dadelik in ‘n klas van sy eie.

As enigeiemand verras is deur sy sukses, sluit dit nie sy ouers Sharon en Trevor in nie. Sy jonger broer Darryn ren ook op internasionale vlak.

Brad het in 2020 as ‘n MotoGP-ryer by KTM aangesluit en saam met die KTM Red Bull-spanhet hy en spanmaat Miller eindeloos geswoeg om die voorste gestoeltes te bereik.

Geen wonder daar was soveel breë glimlagte te sien na Sondag se resies nie. Die 2023-seisoen is dalk net KTM se jaar – en dit mag selfs ook Brad Binder se oomblik van glorie wees.

Op die foto hierbo: Brad Binder

Fotobron: KTM