Deur Buziwe Nocuze
’n Rommelverwyderaar is in Onder-Crossroads vermoor deur misdadigers wat beskermgeld eis.
Die 48-jarige slagoffer het agter die voertuig gestaan waar sy kollegas besig was om asblikke leeg te maak toe hy koelbloedig doodgeskiet is.
“Ons het skote gehoor, maar nooit gedink iemand word doodgeskiet omdat hy sy werk wil doen nie,” het ’n ander rommerverwyderaar gesê.
’n Inwoner, Zukile Dothiya, 40, is besorg dat alle dienste in die gebied deur misdadigers verhinder sal word.
Inwoners is sedert die skietvoorval ook besorg oor hulle eie veiligheid.
Nomsindiso Qhelekile, 48, het gesê inwoners sou wou help om werkers se veiligheid te verseker, maar is bang vir vergelding. “Hulle sal uitvind waar ons en ons gesinne woon.”
Stadsowerhede het die insident bevestig, en gesê die werk sal hervat word, onder polisiebewaking, maar erken dat die polisie sal moet ingryp om die afpersers vas te vat.
’n Polisie-segspersoon vir die Wes-Kaap, Kaptein Frederick van Wyk, sê die saak word ondersoek.
’n Ander groep afpersers het vroeër dieselfde eise in die Samora Machel-vestiging aan rommelverwyderaars gestel, waar die werkers verhinder is om hulle pligte uit te voer.
Stink rommel het daar begin ophoop, wat die gebied feitlik onleefbaar vir inwoners gemaak het.
In die foto hierbo: ’n Rommelverwyderaar is in Onder-Crossroads in Kaapstad doodgeskiet
Fotobron: Buziwe Nocuze