Deur George April
’n Staatsaanklaer, Advokaat Tamryn de Nicker, het Saterdag spesiaal van Kaapstad af Riebeeck-Wes toe gery sodat Pieter du Toit, ’n vooraanstaande boer wat Vrydagaand ’n vrou doodgery en weggejaag het, op borgtog vrygelaat kan word.
Die normale prosedure sou wees om Du Toit tot vandag in die polisieselle aan te hou voor ’n borgtogaansoek gedoen kon word, aangesien gister ’n vakansiedag was. Hy het die R3,000 borgtoggeld Saterdag betaal.
Die 37-jarige slagoffer, Ananda Hugo, se driejarige dogtertjie, Nikita, wat saam met haar was toe die ongeluk gebeur het, is in die waakeenheid van die Rooikruis Kinderhospitaal. Volgens ’n familielid het die kleinding bloeding op die brein, ’n gebreekte arm, en kneuswonde oor haar hele liggaam. Daar word vir haar lewe gevrees.
Behalwe Nikita is nog drie kinders wees gelaat.
Du Toit het nie stilgehou na die ongeluk om te sien of daar beserings was nie, en ook nie die treurspel by die polisie aangemeld nie. Dit is nie aan Scrolla.Africa bekend wie die saak wel aangemeld het nie.
Die verdagte is later die aand in hegtenis geneem, sê Billy Claasen, Uitvoerende Direkteur van Landelike en Plaaswerkers-Ontwikkeling. Sy bloed is getrek sodat dit vir alkohol getoets kon word. Die toetsuitslae is nie bekend gemaak nie.
Volgens ooggetuies het Du Toit teen ’n hoë snelheid gejaag – en briekmerke van by die 150m op die toneel beaam dit.
Claasen is ontstoke oor die “voorkeurbehandeling” wat Du Toit ontvang het. Hy het aan Scrolla.Africa gesê hy het byvoorbeeld nog nooit gehoor dat ’n aanklaer agter ’n plaaswerker aanry nie.
“Hy is geregtig op borgtog, maar waarom al die moeite doen om hom uit die selle te kry?”
Claasen meen die ondersoekbeampte het ook nie sy werk behoorlik gedoen nie. Daar bestaan nie ’n omstandigheidsverslag, wat veronderstel is om by ’n borgtogaansoek ingedien te word nie.
In die foto hierbo: Riebeeck-Wes polisiestasie
Fotobron: Google Maps