Wapenstilstand in Soedan stort in duie

Die 72-uur skietstilstand waartoe daar ooreengekom is deur strydende faksies in Soedan, het heeltemal inmekaar getuimel, met lugaanvalle wat Sondag die stad Omdurman verwoes het.

Omstanders in Soedan se hoofstad, Khartoem, het berig dat hulle heeldag lank ontploffings van hul nabygeleë tweelingstad gehoor het.

Inwoners in die hoofstad is nie veel veiliger nie. Sondag is foto’s versprei van die land se bank, ‘n moderne wolkekrabber, wat aan die brand gesteek is.

Die vae hoop dat konflik tussen die Soedanese weermag en Rapid Support Forces (RSF) binnekort tot ‘n einde mag kom, blyk nou byna onmoontlik te wees.

Internasionale waarnemers glo nou dat Afrika se derde grootste land ‘n uitgerekte konflik in die gesig staar nadat gevegte in April uitgebreek het.

Die effek van ‘n lang oorlog sou katastrofies wees. Voordat die aanvang van gevegte, was ‘n derde van die land se 45 miljoen mense op humanitêre hulp aangewese. Dit lyk of daardie syfer die hoogte sal inskiet, wat die weg baan vir wydverspreide hongersnood en massamigrasie.

Suid-Afrikaanse burgers kom huis toe

Vroeër Sondag het 51 Suid-Afrikaanse burgers wat uit Soedan ontruim is, tuis geland.

Alle Suid-Afrikaners, insluitend die ambassadeur in Soedan, is veilig in Suid-Afrika terugbesorg.

Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, het die ministeriële afvaardiging by OR Tambo-lughawe gelei om die teruggekeerdes tuis te verwelkom.

“Ons wil net hê Suid-Afrika moet weet dat almal van ons gewag het op jul terugkeer en ons is verheug dat julle veilig tuis is,” het minister Pandor aan joernaliste gesê.

Saamgestel deur Arthur Greene

Op die foto hierbo: ‘n Skietstilstand van 72 uur wat verlede week in Soedan ooreengekom is, het in duie gestort

Fotobron: @SudanTribune_EN