Deur Everson Luhanga
Twee lede van ’n straatpatrollie in Stjwetla informele vestiging in Alexandra, Johannesburg is dood en drie ernstig beseer toe iemand vroeg Saterdagoggend op hulle losgebrand het.
Dit het gebeur twee ure nadat Gauteng se provinsiale polisie weg is tydens die O Kae Molao wetstoepassing-veldtog in die gebied.
Die Provinsiale kommissaris van Polisie, Luitenant-Generaal Elias Mawela, adjunk-kommissaris Generaal-Majoor Tommy Mthombeni en ander senior offisiere lei die veldtog.
’n Gemeenskapleier in Stjwetla, Michael Ngobeni , het gesê die gebied word deur booswigte geterroriseer, veral snags. “Daar is verskeie gevalle van geweld,” het hy gesê.
Dit is waarom daar straatpatrollies ingestel is. In samewerking met die polisie is die misdaad tot ’n groot mate bekamp.
Die O Kae Molao-veldtog in die gebied was geslaagd, tot en met Saterdag se tragedie.
’n Organiseerder van die patrollie-groepe, wat bekend staan as King Tsonga, sê die verdagte het op patrollielede begin skiet toe hulle hom op straat wou deursoek.
Die drie erg gewonde oorlewendes is hospitaal toe geneem.
Tsonga sê die patrolleerders het meer hulp van wetstoepassers nodig.
“Die misdadigers is swaar gewapen en ons het nie koeëlvaste baadjies, sekuriteitsradios of reflekteerders nie. Veral tydens beurtkrag is dit lewensgevaarlik.”
Een van die oorlewendes, wat in die been geskiet is, sê party inwoners sien die patrolleerders, wat hulle probeer veilig hou, as vyande. “Ons broers is dood terwyl hulle vrede wou skep.”
Moses Makwimbila, die pa van Rodney Mathonsi, een van die slagoffers, het gesê sy seun het vroeër vanjaar by die patrollies aangesluit om misdaad te bestry.
“Hy was die derde oudste in in die gesin. Dis ’n enorme verlies.”
’n Voormalige lid van die burgemeesterskomitee vir gemeenskapsveiligheid in Johannesburg, Mgcini Tshwaku, het Saterdag die slagoffers se gesinne besoek. Lede van die Johannesburgse metropolisie het hom vergesel.