SA-beleggers in kripto-knoeiery R4.6 miljard kwyt

Deur Nadine Theron

Suid-Afrikaanse beleggers in Mirror Trading International (MTI), die wêreld se grootste kripto-skelmstreek van 2020, is waarskynlik elke sent kwyt van die R4.6 miljard wat hulle op dié Bitcoin skyn-maatskappy verwed het.

So sê Anton Lee, die eerste aansoeker aan die hof dat MTI gelikwideer word, ’n uitspraak wat die Wes-Kaapse regter Alma de Wet verlede week gemaak het.

In haar uitspraak sê Regter de Wet MTI het uitbetalings aan vroeë beleggers gemaak met latere beleggers se geld, ’n onwettige piramide-skema.

Johann Steynberg van Polokwane in Limpopo, stigter van MTI, het in 2020 na Brasilië gevlug nadat sy piramideskema ineengestort het, met die FBI en Interpol op sy spoor. Hy is ’n jaar later deur wetstoepassers in Brasiië vasgetrek.

Hy veg nou om sy uitlewering aan Amerikaanse owerhede te vermy.

Lee, wat R1 miljoen in die skema belê het, sê hy is tevrede dat die likwidasie toegestaan is, maar teleurgesteld dat daar geen melding gemaak word van maniere waarop beleggers hulle geld kan terugkry nie.

“Dit wil voorkom asof ons regstelsel misdadigers eerder as slagoffers se belange dien,” het hy gesê. “Die uitspraak is te vaag om ’n impak te hê.”

Steynberg en ’n verstommende 200 000 ander beleggers om die bos gelei, wat 23 000 Amerikaanse burgers insluit.

Verlede week het ’n hof in Texas Steyberg die grootste siviele boete in die land se regsgeskiedenis opgele: R64 miljard. In Amerika word dit gereken as die grootse Bitcoin-kullery tot nou toe.

Ondanks die hofuitspraak en internasionale optrede lyk sake beroerd vir beleggers. Sover is ’n treurige 

1 281 Bitcoin herwin.

Lee het gesê: “In die beroemde Krion-saak het beleggers feitlik niks teruggekry nie. Die regskoste was te hoog. Ek is bevrees dieselfde kan met ons gebeur.”

In die foto hierbo: Kripto-krimineel Johann Steynberg

Fotobron: YouTube