Mampara-aanklaer tjoekie toe vir mislukte omkopery

‘n Aanklaer het haar werk verloor en dien nou ‘n tronkstraf van vyf jaar uit omdat sy ‘n skamele R1,500 omkoopgeld van ‘n dronkbestuurder geëis het.

Guesta Rhulani Maboela, wat vroeër in die Seshego-distrik gewerk het, is deur die Seshego-landdroshof vir korrupsie gevonnis.

Volgens die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek het die voormalige aanklaer die omkoopgeld geëis van ‘n man wat in hegtenis geneem is vir dronkbestuur. Sy het belowe om die aanklagte teen hom terug te trek as hy die kontant hoes.

Maar die korrupte aanklaer is deur die lang arm van die gereg ingehaal toe die beweerde dronk bestuurder die voorval by die Valke se ondersoekers van ernstige korrupsie aangemeld het. Maboela is by haar werkplek in hegtenis geneem, en ‘n ondersoek het aan die lig gebring dat sy inderdaad die dronkbestuursaak teruggetrek het, net soos beloof.

Die Gespesialiseerde Handelsmisdaadshof in Polokwane het Maboela op 8 November 2022 skuldig bevind, maar sy was op verlengde borg totdat sy uiteindelik Vrydag gevonnis is.

Hierdie mampara het gedink sy sou wegkom met haar slinkse slenter, maar het gekry wat haar toekom. Die les hier is ‘n eenvoudige een: misdaad bring jou niks in die sak nie!

Saamgestel deur Zukile Majova