Diefstal, korrupsie, en nou nog ‘n moord by Fort Hare Universiteit

Deur Zukile Majova

Die Universiteit van Fort Hare het bevestig dat nog een van sy werknemers Sondag in ‘n tref-en-trap-ongeluk dood is.

Visekanselier Sakhela Buhlungu se lyfwag was op pad na die hoofkampus in Alice toe ‘n bakkie teen spoed in sy voertuig vasgejaag het.

Veiligheidswagte wat die ongeluk sien gebeur het, sê toe die bestuurder van die bakkie nie met sy beskadigde voertuig kon ontsnap nie, het hy te voet van die toneel gevlug.

Die wagte het die verdagte agtervolg, gearresteer, en hom na die King Williams Town-polisiestasie geneem.

Die vermoorde lyfwag was na verneem word ‘n sleutelgetuie in die verhoor van vyf mense wat aangekla is van die moord op twee personeellede van die universiteit vroeër vanjaar.

Die vyf wat daarvan beskuldig word dat hulle die aanvalle beplan het op universiteitspersoneel – die instelling se voertuigvlootbestuurder en Professor Buhkungu se lyfwag is albei doodgemaak – moet Donderdag om borgtog aansoek doen.

In Februarie het ‘n aanslag op Professor Buhlungu die lewe gekos van sy lyfwag, Mboneni Vesele, wat in die professor se motor doodgeskiet is.

Petrus Roets, die vlootbestuurder, is in Maart doodgeskiet en daar was ook ‘n aantal pogings tot sluipmoorde op ander universiteitspersoneellede. Professor Buhlungu het gesê minstens drie van die vyf verdagtes het sterk bande met die universiteit gehad.

“Dit is geen geheim dat mnr Bongani Peter (een van die beskuldigdes) die vlootoffisier by Fort Hare was nie. Hy is geskors weens korrupsie en word ook vir albei moorde aangehou. Hy het vir die universiteit gewerk.

“Dit is ‘n skande dat een van ons eie mense, wat deur die universiteit betaal word, wat ‘n werk het, wat verantwoordelikhede het, na bewering nie net geld van die vlootafdeling gesteel het nie, maar ook betrokke was by moord,” het die visekanselier gesê.

Een van die beskuldigdes is ‘n voormalige SR-lid wat sakeman geword het en ‘n diensverskaffer aan die universiteit is, het die polisie gesê. Die derde beskuldigde wat bande het met die universiteit het vier jaar gelede afgetree, maar is weer deur Peter in diens geneem as ‘n deeltydse bestuurder vir die visekanselier.

Op die foto hierbo: Vyf verdagtes verskyn op 11 April by die Alice-landdroshof

Fotobron: @LirandzuThemba