Polio, masels en cholera mag uitlek op strate van beleërde Soedan

Een van die strydende faksies in Soedan se voortslepende konflik het beheer oorgeneem van ‘n nasionale gesondheidslaboratorium, en dié stand van sake het amptenare van die Verenigde Nasies (VN) nou op hol.

Die laboratorium is in die hoofstad Khartoem en bevat biologiese materiaal wat die potensiaal het om ‘n gesondheidskrisis te veroorsaak.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die ontwikkeling as uiters gevaarlik bestempel en gewaarsku dat die uitsetting van tegnici en kragonderbrekings in die stad dit onmoontlik maak om die gestoorde materiaal veilig te bestuur.

Die aankondiging is gemaak te midde van toenemende kommer dat meer vlugtelinge uit Soedan kan ontsnap, ten spyte van die huidige wapenstilstand tussen mededingende magte.

Die gevegte het die land in chaos gedompel en die reeds erg hulpafhanklike nasie tot op die rand van ineenstorting gedruk. Voor die botsings het die VN beraam dat sowat 16 miljoen mense, sowat ‘n derde van Soedan se bevolking, van hulp afhanklik is.

Dié getal sal waarskynlik in die komende weke en maande toeneem namate die situasie in die land aanhou verswak.

Dr Nima Saeed Abid, die WGO se verteenwoordiger in Soedan, het kommer uitgespreek oor die potensieel gevaarlike biologiese materiale wat in die laboratorium gestoor word, insluitend isolate van polio, masels en cholera.

“Een van die vegtende partye het beheer oorgeneem van die sentrale openbare gesondheidslaboratorium in Khartoem en al die tegnici uitgeskop,” het Abid gesê.

Hy beskou die situasie as ‘n yslike biologiese risiko.

Die Soedanese Doktersindikaat het berig dat tientalle hospitale regoor Khartoem en ander dele van die land gesluit is weens die gevegte en ‘n gebrek aan mediese voorrade en brandstof.

Die VN-agentskap het gewaarsku dat as die geweld nie staak nie, daar ‘n wesenlike gevaar is dat die gesondheidstelsel in Soedan in duie sal stort en miljoene mense sonder toegang tot mediese sorg sal laat.

Die konflik in Soedan het in 2019 uitgebreek nadat president Omar al-Basjir deur die weermag uit sy magsposisie gedryf is, ná maande se betogings teen sy regime.

Die oorgangsregering wat hom vervang het, het gesukkel om beheer te behou met verskeie gewapende groepe wat geveg het vir mag en invloed.

Die VN het ‘n beroep op alle kante gedoen om die wapenstilstand te respekteer en om sake te bearbei vir ‘n vreedsame oplossing van die konflik.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Geweld in Soedan