ISH ons of ISH ons nie? Eish!

Deur Zukile Majova

President Cyril Ramaphosa en die ANC het moes toor met woorde om te probeer verduidelik dat Suid-Afrika eintlik sy Internasionale Strafhof (ISH) lidmaatskap gaan behou.

Dit volg op ‘n aankondiging deur die president Dinsdag dat die regerende party se nasionale uitvoerende komitee opdrag gegee het om aan die ISH te onttrek.

Beide party en staat was onder druk om hul standpunt bekend te maak na die ISH se besluit om ‘n arrestasiebevel uit te reik vir Russiese president Vladimir Poetin.

Die Den Haagse hof beskuldig die Russiese leier van oorlogsmisdade, insluitend die gedwonge deportasie van kinders in besette gebiede van Oekraïne – ‘n misdaad wat neerkom op volksmoord ingevolge internasionale reg.

Maar Woensdag is daar ‘n wye ‘S’ gekap. Presidensiële segspersoon Vincent Magwenya het gesê: “Suid-Afrika bly ‘n ondertekenaar van die ISH in ooreenstemming met ‘n resolusie van die 55ste Nasionale Konferensie van die ANC – gehou in Desember 2022 – om ‘n vroeëre besluit om aan die ISH te onttrek, terug te trek.

“Die Desember-resolusie is tydens ‘n vergadering van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC gedurende die naweek van 21 tot 24 April 2023 herbevestig. Die NUK het ook besin oor die moontlike onttrekking uit die ISH as ‘n opsie wat sou ontstaan ​​as laaste uitweg in die afwesigheid van regsopsies wat sal lei tot regverdigheid en konsekwentheid in die administrasie van internasionale reg,” het hy gesê.

Die ANC het gesê onttrekking aan die ISH sal as ‘n heel laaste uitweg beskou word “as, en slegs as” sy ander voorstelle “nie die gewenste resultate van regverdigheid en konsekwentheid in die administrasie van internasionale reg oplewer nie”.

Mzansi berei voor om die volgende Brics-beraad aan te bied, wat na verwagting deur staatshoofde van Brasilië, Rusland, Indië en China bygewoon sal word.

Dit is tydens hierdie beraad in Augustus dat daar van die Ramaphosa-regering verwag word om op te tree op grond van die ISH se arrestasiebevel. Niemand hou egter hul asem op nie.

Op die foto hierbo: Cyril Ramaphosa