Het jy die grap gehoor van die kortgat met die lang bene?

Kort mannetjies wêreldwyd vier fees noudat hulle die kans kry om ’n hele entjie langer in hulle kouse te staan, met behulp van operasies om hulle bene langer te maak.

Maar as jy in die mark is om langer te word om potensiële pasmaats op Tinder te beïndruk, moet jy weet jou beursie gaan dunner word, wat weer teen jou kan tel.

Ledemaat-verlengings is ’n chirurgiese prosedure wat presies doen wat die naam aandui. Dit word ook gebruik vir skeletale displasie, en om beengroeiprobleme teen te werk, volgens Sky News.

Dit kan honderde duisende rande kos, en is g’n grap nie.

Dr Shahab Mahboubian, ’n chirurgh by die Height Lengthening Institute in Burbank, Kalifornië, sê daar was die afgelope vyf jaar ’n groot toename in mans wat hulle lengte wil rek.

“Onder my pasiëte tel daar selfs mans tussen 60 en 65,” het Mahboubian aan NBC News vertel.

“Die ‘kort’ -grappies hou nie op nie, en hulle voel minderwaardig.”

Die dokter verwag om vanjaar 50 van hierdie operasies uit te voer, teenoor 20 verlede jaar.

Lengte is gereeld ’n deurslaggewende faktor in die soeke na die liefde, en ’n studie in 2016 het getoon dat 60% van mans en 49% van vroue wens hulle was langer.

Die opname is deur BodyLogicMD gedoen en het 1 000 mense betrek.

Boonop het ’n studie in 2004 aangetoon dat ’n Amerikaanse man wat 1,8m lank is in ’n loopbaan van 30 jaar sowat R3 miljoen meer sal verdien as een van 1.67m.

’n Ander, goedkoper opsie sou wees om platformskoene na jou volgende werkonderhoud of Tinder-afspraak aan te trek.

Saamgestel deur eie korrespondent

In die foto hierbo: Gesogte lang bene